Pasop vir “uitnodigings” aan misdadigers
‘n Posbus oorlopens toe vol gemorspos, ‘n donker huis met toegetrekte gordyne, ‘n ongesnyde grasperk, en allerhande ander tekens wat op ‘n onbewoonde eiendom dui, bied hierdie vakansietyd weer ‘n ope uitnodiging aan misdadigers om na hartelus te baljaar. Intussen hou die niksvermoedende huisbewoners heerlik vakansie – tot hulle by hulle terugkeer woor verwoesting te staan kom.
Weier hierdie uitnodiging, is die raad van korttermynversekeraars. “Daar is tientalle wenke wat ‘n mens aan voornemende vakansiegangers en reisigers kan gee om hulle te help om ‘n sorgvrye rustyd tegemoet te gaan, maar verreweg kom die meeste daarvan neer op goeie, gesonde verstand en behoorlike beplanning,” se Arnold van der Linde, Bestuurende direkteur van IntegriSure. “Iemand wat die pos uithaal of ligte aan- en afskakel, kan groot verliese voorkom.”
Mense kan baie doen om hulle huise te beveilig, maar die belangrikste is voldoende versekering. ‘n Mens moet jou eie risikobestuurder wees en met elke nuwe aankoop of elke verandering wat jy aan jou huis aanbring jou korttermynversekering dienooreenkomstig aanpas. Min mense doen dit en wanneer ‘n eis nie uitbetaal nie of slegs gedeeltelik uitbetaal, is die verbruiker dikwels ontsteld en geskok. Intussen het daar egter nuwe toestelle bygekom by die huisinhoud of dalk is die duur selfoon nie gespesifiseer volgens fabrikaat en reeksnommer nie.
“met die vakansietyd op hande moet u seker maak I is teen die regte vervangingswaarde verseker,” sê van der Linde, “Onthou, in die geval van huishoudelike verlies vervang ons oud met nuut. Aan die ander kant neem voertuie, wat nie vervang word nie, se waarde oor die jare af en ‘n mens moet sorg dat jou versekeringspremie dienooreenkomstig aangepas word sodat jy nie dalk te veel betaal nie.”
Die belangrikste vir ‘n kommervrye rit na ‘n mens se vakansiebestemming is ‘n padwaardige voertuig. Laat jou motor se bande, remme, ligte en ander belangrike komponente nagaan, want dit kan lewensgevaarlik wees om met ‘n onklaar voertuig langs die pad te gaan staan. Natuurlik kan daar met enige voertuig onvoorsiene probleme opduik. Sorg dan dat jy ‘n selfoon met ‘n volgelaaide battery byderhand het sodat jy onverwyld hulp kan ontbied.
Benewens die Automobiel Assosiasie se bekende padbystanddiens, is daar ook ander instansies wat hulp verleen, veral in geval van ‘n ongeluk. IntegriSure, byvoorbeeld, bied aan sy polishouers ‘n 24-uur motorbystanddiens wat onmiddellik hulp kan verleen met enige motorteenspoed wat ervaar word.
Dit is ook uiters belangrik om te sorg dat ‘n mens jou ID-dokument, rybewys en jou mediese fonds se lidmaatskapbewys byderhand het. Dit is nie net ‘n wetsoortreding nie, maar ook ‘n verkwisting van goeie vakansiegeld om sonder jou geldige rybewys agter die stuur betrap te word. Hou dikwels stil om jou waaksaamheid opgeskerp te hou; moenie drink en bestuur nie; en kom veilig daar.