General

Leerders woel in gemeenskap

THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer het agt Gr 9 leerlinge wat verlede week in die gemeenskap gewoel het deur talle kleuterskole te besoek. Die leerders het die lewensgehalte van kleuters verbeter tydens hierdie besoeke van hulle.
Die besoeke vorm deel van ‘n projek wat die leerlinge, deel van die Partnership Foundation Trust Leierskursus, as groep moet afhandel. Tydens die besoeke word verskeie opvoedkundige speletjies en liedere vir die kleuters geleer. Hulle word ook geleer hoe om hul eie speelgoed te vervaardig.
Die eerste besoek was Woensdag, 24 November by Regorogile Dagsorgsentrum. Mareli Storm, Gerdus Lee, Setadimo Modise, Rikus Oosthuizen, Anje du Plessis, Kealiboga Moloi en Phumlani Snooks het die kleuters handwys gemaak deur met die gebruik van ‘n hanger, sykous en weggooi papier hul eie rakket en bal te maak.
Die volgende dag is besoek afgelê by Ntswe Tshipe Dagsorgsentrum en die kleuters het hulself terdeë geniet. Die dag is afgesluit met Kersvader wat met ‘n groot sak opgedaag het en verwondering en ‘n breë glimlag op elke gesiggie geplaas het.
By die kleuterskole is observasies gemaak van wat by elke skool benodig word en die Thabazimbi gemeenskap word gevra vir ondersteuning om hierdie projek suksesvol te bedryf.
Vir enige navrae kan Gerdus Lee gekontak word by 083 486 2026 of Mareli Storm by 083 233 3905.