General

Afset in Motorbedryf behou Rekord-Groeilopie

Nog ‘n sterk maand van voertuigafset in November het die motorbedryf tot binne 39 902 eenhede gebring, om 1981 se rekord-syfer van 453 541 te klop – iets wat in Desember maklik verwesentlik sal word.
Die Nasionale Assosiasie van Outomobiel-vervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) het aangekondig dat totale voertuig-afset in die eerste 11 maande van die jaar 413 639 beloop het, of 20.8% meer as dieselfde tyd verlede jaar.
Totale afset van passasiersmotors en ligte handelsvoertuie het in November met 31.8% gestyg vergeleke met dieselfde maande in 2003, en bring die syfer vir die jaar tot op datum op 394 337 te staan – dis 67 084 (of 20.5%) beter as die eerste 11 maande van verlede jaar.
Afset van passasiersmotors het tot dusver vanjaar met 20,5% toegeneem, terwyl die syfer vir ligte handelsvoertuie in dieselfde tyd ook met 20.5% gestyg het.
“Daar is geen twyfel nie dat 2004 die bedryf se beste jaar sedert 1981 sal wees. Ons kon dit behaal danksy lae rentekoerse, die stabiliteit van voertuigpryse en ‘n baie positiewe ekonomiese omgewing wat verbruikersvertroue regdeur die jaar onderskryf het,” sê Roel de Vries, nuwe hoof van bemarking en afset by Nissan.
“Nissan het vanjaar ‘n verbeterde markaandeel geniet en pluk die vrugte deur nuwe kopers met nuwe modelle wat vanjaar bekend gestel is, te lok. Sommige daarvan is in marksegmente waar ons nog nie voorheen verteenwoordiging geniet het nie. Die Nissan X-TRAIL en die 350Z is vir die eerste 11 maande leiers in hul onderskeie marksegmente, terwyl die Hardbody bakkiereeks nommer twee en die dubbelkajuit-weergawe nommer een in hul segmente is. Ons vertoning in November is ook aangevuur deur uitsonderlike syfers wat deur die jongste Patrol en nuwe Hardbody King Cab behaal is. Beide is hierdie maand bekend gestel.”