Rooivleis produsenteheffing
Die Rooivleis Produsenteheffing is van kardinale belang om die Noordwes Rooivleis Produsente-Organisasie te befonds om in belang van alle rooivleisprodusente in die Provinsie te beding, sê Lardus van Zyl, NWRPO Voorsitter.
Die NWRPO het onlangs ‘n baie insiggewende dag vir alle lewende hawe afslaers asook verteenwoordigers van voerkrale en abattoirs aangebied waartydens hulle oor die rol van die RPO ingelig is. Daar is in die voorleggings veral op die verskil tussen die produsenteheffing teenoor die voorgenome statutêre-heffing gefokus. Gerhard Schutte, Nasionale Bestuurder van die RPO, het gesê dat die produsenteheffing van krag moet bly om veral die volgende belangrike funksies van die NWRPO te befonds aangesien die statutêre-heffing nie daarvoor aangewend sal kan word nie.
Die funksies wat met die gewone produsenteheffings verrig moet word, behels onder andere tariefbeskerming, uitvoerbevordering, internasionale ooreenkomste, instandhouding van sekere basiese dienste rakende navorsing, voorligting en dieregesondheid, bevordering van die ekonomiese posisie van produsente en stabiliteit in die bedryf, die stel van produsente se saak by owerheids- en nie-owerheidsinstansies, die vestiging en bevordering van ‘n positiewe beeld van die produk en bedryf, die bestuur van die proses van privatisering, deregulering en internasionalisering van die rooivleisbedryf, bedinging vir verlaging van inset- en bemarkingskoste, die vestiging van ‘n mark vir diere wat organies geproduseer word asook ander grondvlak dienste aan skoue, inligtingsdae en dies meer.
Die statutêre-heffing daarinteen sal hoegenaamd nie vir die bogenoemde administratiewe- en bedryfsfunksies van die NWRPO aangewend kan word nie. Mnre Manie Booysen, Hoof Uitvoerende Beampte van SAMIC en Dave Ford, Voorsitter van die SA-Voerkraalvereniging, het in hulle voorleggings tydens die dag op die doel van die statutêre-heffing gefokus wat hoofsaaklik die volgende funksies behels, naamlik: die skep van verbruikersgemoedsrus deur volgehoue vleisinspeksies, wat ordelike klassifikasie, bekamping van onwettige slagtings en die monitering van voedselveiligheid en vleisinvoere insluit. Ander belangrike funksies behels die promosie van rooivleis, toegepaste navorsing en ontwikkeling, bedryfskakeling, produksie ondersteuning, ondersteuning aan die ontwikkelende sektor en sekere Ad hoc Projekte soos die Suider Afrikaanse Lewende hawe en Vleisforum.
Van Zyl het veral ‘n dringende beroep op beide produsente en alle rolspelers in die bedryf gedoen om ‘n duidelike onderskeid tussen produsenteheffings en statutêre-heffings te maak. Daar moet voortgegaan word met die gewone produsenteheffings wat by die eerste punt van verhandeling deur agente, abattoirs en voerkrale gehef word ten einde die bogenoemde administratiewe funksies van die NWRPO te befonds. Statutêre heffings sal nie daarvoor aangewend kan word nie, aldus van Zyl.
Enige navrae in hierdie verband kan aan die NWRPO se Hoofkantoor by 018 6323612 gedoen word asook by Hoofbestuurslede binne Distriksboere-unie verband.