Thabazimbi Gholfnuus
THABAZIMBI – Noel Coward het jare terug ‘n liedjie gesing, wat as ek reg onthou, begin het met die woorde: “Mad dog’s an Englishman who walks in the midday sun.” Wel verlede Saterdag was daar dan heelwat mal, maar lojale spelers op die gholfbaan. Ons het baie gif uitgesweet en pret gehad, want dit was Gekkedag en die jaareindfunksie, die dag wat elke gholflid op die baan moes wees om te help om die gees en gesindheid teenoor die klub en mede-spelers te bewys en te bevorder.
Shaun Payne, een van ons belowende juniors, doen goed met sy drie stokke en eindig met die wen-telling van 73. Jacob Jordaan, Piet Venter en Alta Venter eindig saam op 74. Dit was veral verblydend om ‘n paar spelers wat nog graag wil leer, saam met beter spelers te kon laat speel. Baie dankie aan die bedrewe spelers vir hulle geduld en gesindheid. Die pryse vir die dag se spel en die braai die aand is deur die klub self geborg, net een manier om dankie te sê aan ons lede. Dan is al die trofeë wat deur die jaar gewen is weer uitgedeel. Daar is egter ook drie ander trofeë uitgedeel. Die Kapteinsbeker vir die grootste bydra tot die klub deur die jaar gaan aan Wim Diedericks vir sy gesindheid en Kumba se hulp die afgelope jaar. Die beker vir die Karakter van die jaar gaan aan dok Willem du Plessis, veral vir sy pyltjie-balle. Die trofee vir die beste poging en meeste gholf vir die dag en die dapperste glimlag na die gesukkel, gaan aan Belinda Nortje.
Die spelers wat deur die jaar die maandelikse slagspel gewen het maar nie hulle trofeë ontvang het nie, het dit ook Saterdagaand gekry. Liewer laat as nooit. Die laaste Slagspel van die jaar is Saterdag 4 Desember. Vir die res van Desember gaan daar nie amptelike kompetisies gereël word nie. Die Pick ‘n Pay Sundowner sal egter ook nog elke Woensdag gespeel word. Spelers moet maar Saterdae die gewone tyd by die klub aanmeld en dan sal daar verder spel gereël word. Spelers moet net onthou dat die klub en die baan op Kersdag gesluit sal wees.