PUK ontwikkel taalaanleerprogramme vir Isizulu- en Setswana
Twee nuwe taalverwerwingsagteware vir isiZulu en Setswana is bekendgestel deur die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) by die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Hierdie multimedia-sagtewareprogramme stel ‘n leerder in staat om die basiese grondbeginsels van ‘n nuwe taal in ongeveer 45 ure baas te raak. Dit sluit in die woordeskat en luister-, praat-, skryf en leesvaardigheid in die doeltaal – alles in die gemak van sy of haar eie huis of kantoor.
Ngenani! (isiZulu) en Tsenang! (Setswana) se name is afgelei van die Nederlandse konsep waarop hulle gebaseer is (Instap) Prof Marlene Verhoef, direkteur van die Taaldirektoraat aan die Noordwes-Universiteit en projekleier, het die regte verkry om die bestaande konsep en tegnologie aan te pas ten einde hierdie twee Suid-Afrikaanse eweknieë te skep. Hierdie innoverende produkte is oor ‘n tydperk van vier jaar deur ervare dosente en navorsers aan die Noordwes-Universiteit ontwikkel.
Elke program bestaan uit vier hoofstukke van vyf tot ses lesse elk. Lesse handel nie net oor woordeskat , grammatika, en kommunikasievaardighede nie, maar bied ook ‘n insig in die kultuur van die besondere taalgemeenskap. Voortdurende evaluering verseker dat die leerder se vordering gemeet word en dat die nodige terugvoer verskaf word.
Die produkte het reeds in Suid-Afrika sowel as in die buiteland heelwat sukses behaal. ‘n Paneel kurrikulumontwikkelaars van die Noordwes Departement van Onderwys het die Setswana-program in terme van die bruikbaarheid daarvan vir opvoedkundige doeleindes geëvalueer, en hoë lof gehad vir die aanwendbaarheid daarvan om veeltaligheid op tersi?re en sekondêre vlak te bevorder. Die programme is ook gemeet aan internasionale standaarde en norme betreffende programmatuur vir die onderrig en leer van tale (bekend as QUILTNETWORK – Quality In Language Teaching/Learning). Volgens hierdie internasionale standaarde wat die kwaliteitbeginsels van ontwerp, implementering en uitkomste beoordeel , het Tsenang and Ngenani ‘n gemiddeld van 80% behaal.
Dis nie net jong leerders en onderwysers wat sal baat vind by hierdie programme nie, maar ook volwasse leerders in die mynbedryf, die bankwese, mediese praktisyns en verskeie ander besighede. Prof Annette Combrink, kampusrektor, beskryf dit as “‘n geleentheid vir bestuurders en sakeleiers om nuwe taalvaardighede te ontwikkel vir beter dienslewering aan werknemers en kliënte ten einde ‘n kultuur van veeltaligheid in die sakewêreld en die werkplek te kweek”.
Die Instap-reeks word uitgebrei in 2005 wanneer begin word met Sesotho sa Leboa (Noord-Sotho), Sesotho, en isiXhosa. Die pakkette vir hierdie tale sal na verwagting teen die einde van 2005 vrygestel word, waarna die res van die land se amptelike tale aan die beurt kom.
Vir verdere inligting of enige navrae, stuur ‘n e-pos na info@bowline.co.za, skakel 0800 203 048 of stuur ‘n faks na 0800 203 218.