General

Gereformeerde Kerk bederf susters

THABAZIMBI – Die broeders van die Gereformeerde Kerk, het Saterdag, 20 November, die susters beloon vir hul harde werk die afgelope jaar met ‘n formele ontbyt by Mongatane Lodge van Boeta en Magdaleen van Dyk.
Met die uitsondering van die voorgeskrewe formele drag – susters hoede op, was al die ander reëlings as ‘n verrassing gehou. Die susters was natuurlik baie nuuskierig, maar geen broer kon waag om iets te verklap nie, of hy sou die gevaar loop om die plegtigheid van ‘n 13 jarige Joodse seun te ervaar as straf.
Gerugte van vervoer na die “onthaal” met donkiekarre, beestrokke en taxi’s is ondeund deur broeders as baie vertroulik in die ore gefluister. Selfs plekke van die onthaal is baie aspris en per ongeluk genoem soos ‘n shebeen in die bos, vis en chips in die straat tot ‘n baie primitiewe jagkamp met beperkte “ablusie” geriewe.
Almal was verbaas en verwonderd oor die vervoer, dit was toe ‘n ry wit ddm’s (duitse deftige motors) wat tot groot verligting van baie swaar gemoedere, opgedaag het. Met die aankoms en ontvangs by die Lodge is alle twyfel in die broeders se vermoë tot bekwaamheid uit die weg geruim.
Heerlike vrugtepons en vrugte sosaties is onder die rustige skadu van Tambotiebome aan hulle bedien, waarna hulle die onthaal vertrek binne gelei is.
Almal wat die funksie bygewoon het, was dit eens dat dit ‘n baie gepaste wyse was van dankie sê vir wat gedoen is, en ook in oorspronklike voorbarigheid, asseblief te vra vir alles wat volgende jaar gedoen moet word.