General

Min polisielede, groot gebied

THABAZIMBI- Thabazimbi se polisie ondervind steeds ‘n groot personeeltekort alhoewel die areabestuur glo dink dat daar genoeg lede hier werk vir die grootte van die area.
Volgens ‘n woordvoerder van die polisiestasie, het die misdaadvoorkomingsdiens  Oktober tydelik ontbind en werk almal skofte. Selfs die superintendent en sy vrou word nie uitgesluit nie.
Daar sal skynbaar Desember nog ses studente bygekry word om die werkslading te verlig. “Dit sal nog steeds te min wees”, sê een polisievrou.
“Daar is baie keer een lid per klagtevoertuig. As hulle byvoorbeeld ‘n klagte op Makoppa opvolg en daar kom nog een deur van byvoorbeeld die Kransberg af, neem dit lank om by die ander toneel uit te kom”.
‘n Verdere probleem is dat daar na bewering ook omtrent altyd net een voertuig beskikbaar is.
Die feit dat almal nou skofte werk, het tot gevolg dat daar nou ses lede per skof aan diens is. Dit sal glo so wees tot Desember.
Ander polisielede vertel dat daar party aande net een persoon aan diens is in die aanklagkantoor. Dit beteken dat daardie persoon nie fisies binne die selle inspeksie kan gaan doen nie, maar net aan die buitekant van die gebou kan loop en luister of alles in orde is.
By Thabazimbi speurtak lyk dit nie veel beter nie, want die nege lede het net drie voertuie om sake mee op te volg. Die derde voertuig is twee weke gelede ontvang. “Nou dat almal op skofte is lyk dit darem ‘n bietjie beter”.
Met die nuwe ontwikkelings wat in Thabazimbi opskiet, behoort daar ‘n redelike groei in die populasie van die gebied te wees. Dit laat ‘n mens net wonder of hierdie feit in aanmerking geneem word as dit by die hoeveelheid polisielede kom.
Thabazimbi Polisiestasie se hande is afgekap as dit by hierdie sake kom. Briewe kan gerig word aan die Area kommissaris in Modimolle per adres Die Area Kommissaris Waterberg.  Privaatsak X1022, Modimolle, 0510.
Hierdie is nie net ‘n probleem in Thabazimbi nie, maar word landwyd ondervind. Daar word darem deesdae beloof dat meer lede aangestel sal word.