Bosveld Bonsmara groep maak weer so
THABAZIMBI – Die negende jaarlikse veiling van die Bosveld Bonsmara groep vind plaas op Vrydag 22 Oktober 2004 te Northam veilingskrale.
Van die vyf stigterslede is huidig twee oor, naamlik John Liechti en Archie Kritzinger. Die ander twee lede is Peter Beith en Jan de Beer. Al vier lede was vanjaar onder die tien finaliste (alle rasse) van die LNR Diereverbeteringsinstituut se Vleisbeeskudde van die Jaar kompetisie. (Limpopo streek). Peter Beith het ook die gesogde “Farmers Weekly koei” toekenning (tweede keer) verower. ‘n Bul geteel uit een van sy bulle het ook die hoogste prys van R60 000 behaal, op die 40 jarige herdenkingsveiling van die ras te Bloemfontein.
Mnr Jan de Beer boer in die Alma omgewing en sy kudde is hoofsaaklik gebou op KI. Met sy eerste besoek aan die prestige veiling van die Genootskap ‘n paar jaar gelede op Bloemfontein het hy stof geskop in baie ander telers se oë en twee bulle verkoop vir R33000 en R65000.
Alhoewel die vier lede van die groep van die min stoettelers in ons gebied is wat oor is, kan hulle met reg aanspraak maak daarop dat hulle ‘n belangrike rol speel binne die Genootskap. John is al baie jare ‘n raadslid en ook die laaste paar jaar die President. Sy bulle se nageslag het ook diep spore getrap in ons land, maar ook buite ons grense, onder andere in Brasilië.
Archie Kritzinger is ook saam met John op die Raad van die Genootskap en sorg die twee dat ons streek ook nie vergete raak nie.
Woon gerus die veiling by en gaan kyk na die voortreflike diere wat ons streek beskikbaar stel.