General

SAVF hou weer markdag

THABAZIMBI – Dit is weer tyd vir vanjaar se SAVF markdag en kinderpretdag. Die SAVF se kuns- en kersmark was verlede jaar ‘n dag vol pret en plesier, en daarom het die SAVF besluit om dit weereens vanjaar aan te bied op die 30ste Oktober te Thabapark.
Die SAVF nooi alle belangstellendes om ‘n staanplek teen R60 te bespreek om enige items te verkoop of sommer net uit te stal vir advertensie. Die dag sal ook baie spesiaal gemaak word vir die kinders, en alle inkomste uit die pretdag, sal weer aangewend word vir die maatskaplike welvaart van plaaslike kinders en behoeftiges.
Die hoogtepunt van die dag sal die modeparade vir kinders van 2 – 15 jaar wees. Die SAVF is opsoek na die oulikste, interessantste, oorspronklikste en spontaanste SAVF sprokiesprins en -prinsessie. Alle kinders word uitgenooi om deel te wees van die avontuur.
Kostes beloop R40 per inskrywing, en kan afgehaal word by Rachel Rossouw, Tambotie mediese sentrum, kamer nommer een (bo dokter Buys se spreekkamer), of by Marieta Barnard (Vliegpoortdrankwinkel), Thaba Spar en Kodak Thabazimbi. Die sluitingsdatum is op 22 Oktober.
Die SAVF is ook opsoek na die pragtigste, interessantste ouer(s)- en kind(ers) foto. Stuur die foto van jou en jou kind met julle name, van, telefoon nommer, adres, asook inskrywingsgeld na die SAVF maatskaplike dienskantore of pos dit aan SAVF Thabazimbi, Posbus 35, Thabazimbi, 0380.
Inskrywingsgeld beloop R25 per inskrywing. Meer as een foto kan ingestuur word, en kan weer afgehaal word by die SAVF kantore. Sluitingsdatum is op die 13de Oktober, en die wenners sal op die 30ste Oktober tydens die fees aangekondig word.
Daar sal ook ‘n kreatiewe inkleurkompetisie gehou word vir kinders van 2- 12 jaar. Die tema moet wees: wees lief vir mekaar, gee om vir mekaar of help mekaar en moet op ‘n A4 papier uitgebeeld word.
Enige skryfbehoeftes of afval materiaal kan gebruik word en moet die kind se eie handewerk en idee wees.
Inskrywingsgeld beloop R5 en die kind se naam, van, ouderdom en telefoon nommer moet agterop die papier geskryf word. Inskrywings kan aan die SAVF gepos of gestuur word, en die sluitingsdatum is die 3de Oktober. Wenners sal op 30 Oktober tydens die fees aangewys word.
Die SAVF nooi enige organisasie of persoon uit wat moontlik kan help met die borg van lekkergoedpakkies, koeldranke, geskenkies of kontant, om hulle te skakel. Hou die Kwêvoël dop vir meer besonderhede. Rachel Rossouw kan gekontak word by (014) 777 1093.