SA warmer – reënval minder

Suid-Afrika kan in die volgende sowat 15 jaar warmer word, terwyl die gemiddelde reënval kan verminder. Dit is egter slegs aanduidings uit rekenaar-klimaatsmodelle en daar is heelwat onsekerheid oor die korrektheid van sulke voorspellings, het professor Hannes Rautenbach van die Laboratorium vir Navorsing en Opleiding in Atmosferiese Modelering (LRAM) aan die Pretoriase Universiteit op Lambertsbaai gesê.
Rautenbach het gesê Suid-Afrika is van nature ‘n droë land en boere moet dus goeie reënjare as buitengewoon sien. Hulle behoort eerder hul beplanning om droogtes te doen. Vanaf 1860 tot 2000 het die gemiddelde temperatuur in Afrika met 1 ºC toegeneem. Sulke veranderings kan veral in tropiese en subtropiese dele van die vasteland ‘n groot invloed hê.
Vyf jaar gelede is internasionale rekenaarmodelle vanoor die hele wêreld bekyk en die ses beste modelle is geïdentifiseer om toekomstige weerpatrone mee te voorspel – veral wat kweekhuisgasse se toename betref. Dit is bekend dat kweekhuisgasse in die laaste eeu verdubbel het.
Al ses modelle het ‘n toename in temperature voorspel. Die gemiddelde temperatuur van die wêreld sal volgens dié modelle met sowat 2 ºC in die volgende 100 jaar styg. Tot omtrent 1950 was die Noordelike Halfrond koeler as die Suidelike Halfrond, maar sedert 1980 is die Suidelike Halfrond besig om koeler te word as sy noordelike eweknie.
Die modelle dui ook aan dat die temperature in Suid-Afrika warmer gaan word. Tot die jaar 2020 word ‘n toename van 2 ºC tot 2.5 ºC in Suid-Afrika voorspel. Hy sê die modelle se voorspellings verskil egter meer wat reën betref. Tog blyk dit in die algemeen asof die meeste modelle ‘n afname in die reënval vir Suid-Afrika en vir die Sandveld in besonder voorspel. Hy het egter beklemtoon dat daar nog heelwat onsekerheid daaroor is.
Volgens ‘n Australiese klimaatsmodel kan die Wes-Kaap se winterreënval verminder. Reënval in die somer kan toeneem omdat dit voorspel word dat koue fronte al verder suid van die land verby sal beweeg.
Rautenbach meen die volgende vyf tot tien jaar moet weerseine fyn dopgehou word. Veral in die Noordelike Halfrond blyk dit dat die voorspellings àl hoe meer in die kol is.

Bron: Landbouweekblad, Mei 2004.