General

Lentebloeisels

Lizanda Jacobs
Die lente is hier, en saam daarmee word ons gemoed sommer lig wanneer ons die bloeisels aan die bome sien. Die soet reuk wat ons bereik as ons saans op die stoep uitstap vertel ons die winter is verby.
Oral is daar ‘n glimlag op die gesigte te sien, so asof ‘n towerfeëtjie haar staffie oornag oor Thabazimbi kom swaai het. Ons is weer lus vir die buitelug, sport en plesier. Die braaivleisvure begin weer hoog brand, en die wat nog nie die roosters afgestof het nie, word vermaak deur die braaivleis reuk wat in die lug hang.
Die jaar is weer byna verby, en as ons terugkyk oor die jaar, dan wonder ons waar die tyd dan heen is. Daar was soveel beplanning en voornemens vir hierdie jaar, en meteens is hy byna verby. Eersdaags sal die kersadvertensies op TV, radio, koerante en tydskrifte te sien wees.
En iewers in die tydjie wat nog oorbly voor hierdie jaar verby is, kan ons nog ‘n deel van onsself  aan ons medemens gee, of ‘n tiende, want ‘n tiende word nie net gemeet aan geld nie. ‘n Tiende van jou tyd, aandag, kameraadskap, liefde, deernis, bystand, verdraagsaamheid en geduld.
Om ‘n eet dingetjie oor te dra in tyd van vriend of vreemdeling se nood of hartseer, ‘n vars geplukte blommetjie op iemand se kopkussing wat ‘n traan in die hart het, of om sommer net ‘n drukkie te gee en jou glimlag soos ‘n weerligstraal oor te dra aan ander.
Die spore wat ons trap, is vir ewig, en kan nie uitgewis word nie. En dit wat jy aan ander doen sal tienvoud terugkom na jou toe. Miskien in jou grys jare wanneer jy vergeet het van al die kere wat jy daar was en jou tiende onselfsugtig gegee het. Maar die Hoër hand vergeet nooit, en jy sal beloon word vir wie en wat jy is.
So, kom ons gooi almal ons tiendes saam in een groot pot en tower ons dorp tot die paradys van ouds.