General

Veediefstal neem ernstige afmetings aan

Veediefstal het die afgelope aantal maande kommerwekkende afmetings aangeneem in sekere gebiede van die Noordwes Provinsie, sê Lardus van Zyl van die NWRPO.
Die waarde van vee wat die afgelope tyd in die Noordwes provinsie gesteel is, beloop reeds etlike miljoene rande. In een geval het ‘n produsent oor die afgelope ses maande reeds 42 beeste verloor, waaronder verskeie bulle waarvan een se waarde op ongeveer R20 000 geraam word.
Produsente in die Noordwes streek het oor die afgelope vyf jaar reeds ook van ongeveer 700 000 stuks kleinvee ontlsae geraak en skryf hierdie vermindering grootliks toe aan die effek van veediefstal. Kaptein De Kock, koördineerder van die Veediefstaleenheid, het produsente tydens die vergadering meegedeel dat die Veediefstaleenhede die nakoming van die nuwe Wet op Veebrandmerke in die toekoms meedoënloos gaan toepas.
Hy het gewaarsku dat geen uitsonderings gemaak sal word nie en dat die nodige dokumentasie tydens die vervoer van vee beskikbaar moet wees.
Die bedrywighede van sommige spekulante en hulle rol in veediefstal is in die besonder aangespreek, veral ook ten opsigte van die oorgrens vervoer van diere. Die toepassing van die veebrandmerk en die meegaande regulasies sal in die toekoms ook baie streng op spekulante toegepas word.
Kaptein De Kock het ook gesê dat die Veediefstaleenheid nie sal huiwer om diere te konfiskeer wat nie wettig gebrand of waarvoor daar nie wettige dokumentasie tydens die vervoer daarvan beskikbaar is nie.
Lardus van Zyl het ook ‘n dringende beroep op produsente gedoen om seker te maak dat alle vee op die voorgeskrewe manier gebrandmerk of getatoeëer sal wees. Navrae in hierdie verband kan aan die betrokke Veediefstaleenhede of die NWRPO se hoofkantoor gedoen word by (018) 632 3612. Vir Limpopo Veediefstaleenheid kan u (014) 718 1000 kontak.