Voormalige Thaba leerlinge in Duitsland
THABAZIMBI – Twee voormalige leerlinge van Hoërskool Frikkie Meyer, Henco Leicester en Anita Kok, het die afgelope Julie vakansie aan die Musica Mundi Koor Olimpiade wat in Duitsland aangebied was, deelgeneem.
Henco, wat lid is van Afrikaans Hoërskool Seunsskool se koor, het saam met die koor Duitsland toe getoer. Die koor het ‘n eerste plek in die afdeling “Jong Mannekore” behaal. Hulle is ook gekies om aan die Openingseremonie by die Olimpiade deel te neem en het ‘n staande applous ontvang.
Nog twee Thabazimbi leerlinge, Morné Fraser en Aart van den Brink, is deel van dié bekende koor, maar kon as gevolg van hul insluiting en deelname aan die Cravenweek, nie saam gaan toer het nie.
Anita Kok, tans ‘n tweedejaar student in Grafiese Ontwerp aan die Universiteit van Stellenbosch, was deel van dié Universiteit se wenkoor wat ook aan die Koor Olimpiade in Bremen gaan deelneem het.
Die Universiteit van Stellenbosch se koor was een van slegs drie kore wat genooi was om aan ‘n Gala-konsert deel te neem, waar hulle ook ‘n staande applous ontvang het. Verder het die koor ‘n uitmuntende prestasie behaal om as wenkoor gekies te word in ‘n baie groot afdeling vir gemengde jeugkore. Die koor het 93% behaal, wat dan ook die algehele hoogste punt in die kompetisie was.