General

Gesin in koelkamer na plaasaanval

THABAZIMBI – ‘n Gesin van Koedoeskop moes ‘n paar uur in ‘n koelkamer deurbring nadat hulle deur gewapende rowers oorval is.
Die voorval het die aand van 5 Julie plaasgevind toe Beltus en Amanda Schoeman, van die plaas Nooitgedacht, met hul twee kinders net na 20:00 by hul huis aangekom het. Hulle is almal die huis in, maar Beltus is weer uit om nog pakkies in die kar te gaan haal.
Buite is hy oorrompel deur ‘n gewapende aanvaller. Amanda het uitgehardloop, waarop Beltus vir haar geskreeu het dat sy moet gaan wegkruip. Sy en die twee kinders het agter die bank in die sitkamer gaan weggekruip maar is deur twee rowers wat reeds by die huis ingebreek het oorrompel.
Amanda en die kinders is vasgemaak en komberse is oor hul koppe gegooi. Beltus is na die kluis geneem, waar die rowers R10 000 kontant, ‘n haelgeweer en pistool met al die ammunissie in die kluis gevat het. Hulle het suiwer Engels gepraat en Beltus verseker dat hy’s die eerste een is wat ‘n “bullet” gaan kry.
Die rowers het maskers oor hul koppe gehad, rubber handskoene aangehad en het lappe om hulle skoene gedraai. Een van die aanvallers het Amanda aangesê om hulle Thabazimbi toe te neem, waarop sy geantwoord het sy nie kan bestuur nie.
Sy is in die ribbes geskop en het met haar gesig teen ‘n tafel geval.
Die gesin is na buite geneem en in die koelkamer toegemaak. Beltus het ongeveer 23:30 daarin geslaag om uit die koelkamer te kom en by die bure alarm gemaak.
Die polisie het die spore gevolg tot waar dit deur die Krokodilrivier is. Geen verdagtes is nog aangekeer nie.
Dit was duidelik dat die aanvallers die gesin reeds vroeg by die huis ingewag het aangesien al die drank in die huis uitgedrink is.
Die volgende nag, 6 Julie, het drie verdagtes die plaas Apieskraal van Mnr Saradinah, aangeval. Die eienaar is woonagtig te Pretoria en was nie ten tye van die aanval op die plaas nie. Judas Njati, die plaaswerker, het om 22:00 die honde hoor blaf en gaan ondersoek instel.
Die gewapende aanvallers het hom egter by die hek ingewag en op hom gevuur. Judas het probeer weghardloop, maar is in die nek gewond. Die aanvallers het hom teruggesleep na sy huis, en hom saam met sy vrou vasgebind en aangedring op die hoofopstal se sleutel.
Toe hulle nie die sleutel by hom kon kry nie, is hulle na die hoofopstal waar hul al vyf die chalets en die konferensiegebou oopgebreek het. Hier het hulle drank, beddegoed en klerasie gesteel. Die skade aan die chalets en konferensie gebou is egter groter as die waarde van die gesteelde goedere.
Judas se vrou het later die nag losgekom, en met hul ses maande oue baba kilometers ver geloop om hulp te soek. Die polisie is ongeveer om 02:00 die oggend in kennis gestel van die plaasaanval. Twee groepe spoorsnyers en die lugvleuel is ingetrek om te help met die soektog. Geen verdagtes is egter nog aangekeer nie.
Die twee plase is ongeveer 30 kilometer van mekaar geleë, en die polisie vermoed dat daar ‘n verbintenis tussen die twee plaasaanvalle is.