General

Borgskapsteun vir Pendoring

Volgens die Alle Mediaprodukstudie het Afrikaanssprekendes as groep steeds formidabele koopkrag in SA, ondanks die emigrasie van talle van hul taalgenote.
Slim bemarkers besef dit, asook dat Afrikaanssprekendes die beste op moedertaalreklame reageer. Derhalwe het die Pendoring-reklameprojek die afgelope tien jaar sterk borgskapsteun van bykomende borge geniet wat dié mark wil bereik, en elke jaar skaar nuwe bykomende en seniorborge agter Pendoring.
Benewens die nege stigterslede – ATKV, Caxton, De Kat, Kopieskrywersforum, kykNET, Media24 (Koerante en Tydskrifte), RSG en Rapport – wat Pendoring tien jaar gelede in die lewe geroep en gevestig het, het twee nuwe seniorborge – ABSA en Lithotech – vanjaar hul steun aan Pendoring toegesê. ABSA borg die twee studente-kategorieë en Lithotech die onder-die-lyn/direkte bemarkingskategorie.
Me Laetitia van Dyk, uitvoerende groephoof van ABSA, sê Pendoring gee SA die geleentheid om voortreflike Afrikaanse kommunikasie en reklame te vier, te erken en ten toon te stel.
Mnr David Macfarlane, groepbemarkingsbestuurder van Lithotech, sê as markleier op die gebied van sakekommunikasie en inligtingsfasilitering, en as ‘n maatskappy wat in SA gebore en getoë is, is Lithotech trots daarop om met Pendoring se passie vir, en erkenning aan eg Suid-Afrikaanse skeppendheid vereenselwig te wees.
“Afrikaans word landwyd deur ons kliënte gepraat. Ons is dus trots daarop dat die skeppende gebruik van dié taal die nodige erkenning kry.”
Benewens ABSA en Lithotech, maak Lufthansa, wat Pendoring al ‘n hele paar jaar lank ondersteun, ook vanjaar sy buiging as ‘n seniorborg, terwyl Clover, Oracle-lugtydverkope, SABC2, SABC Airtime Sales en Vodacom vanjaar weer seniorborge is.
As ‘n nuwe bykomende borg het Eerste Nasionale Bank ‘n borgskap bewillig spesifiek vir die Pendoring-toneelstuk, Wie is Spek Harmse en hoekom skryf hy Afrikaanse advertensies?, wat die bekroonde kopieskrywer en dramaturg, Harry Kalmer, spesiaal vir Pendoring se tiende verjaardag geskryf het.
Dié toneelstuk sal in September as opdragstuk op Aardklop te sien wees, en geniet ook borgskapsteun van Beeld, Boardmans, Sanlam, Santam en Toyota.
Ander bykomende borge wat vanjaar weer hul steun aan Pendoring toegesê het, is Ads24, Beeld, British Airways/Comair, KWV/Laborie, Newsclip, SA Brandewynstigting en Toyota.
Beoordeling vind van 23-25 Julie plaas en die wenners word op 3 September op ‘n gala-geleentheid by Vodaworld, Midrand bekend gemaak.