Limousin beesras by skou
THABAZIMBI – Die Limousin beestelersvereniging het gedurende 1975 sy ontstaan hier gehad. Mnr Theo Kruger, die stigter, sal dan ook vanjaar by die plaaslike skou as beoordelaar waarneem.
Die Limousin is ‘n suiwer ras, uit die suide van Frankryk wat wêreldwyd bekend en geliefd is. Die bees is ook geneties geensins verwant aan enige Suid-Afrikaanse beesras nie, en daarom word 100% basterkrag tydens kruisteling verkry.
In die Thabazimbi omgewing is hy veral gewild vir sy besondere bespiering, temperament en aanpasbaarheid. Tans is daar alreeds sowat 20 stoettelers in die Thabazimbi-Ellisras omgewing.
Ander uitstaande kenmerke is ‘n mediumraam vleisbees wat maklik kalf. Kalwers se gemiddelde gewig is 36 kilogram by geboorte. Die Limousin het ook goeie melk- en speenmassa eienskappe. Sy uitslagpersentasie beloop 63% en selfs hoër.
Die Limousin het die afgelope drie jaar weggestap met die louere as kwaliteits karkaskampioen. Hy is ook die enigste ras in Suid-Afrika wat ‘n vier uit een vleis tot been verhouding het.
Vir beoordelings doeleindes moet die Limousin oor die volgende eienskappe beskik, naamlik ligrooi van kleur, lig-kleurige ringe om die oë, ligkleurige stert, klein en kort kop, breë bek, gladde haarkleed en fyn beenstruktuur wat meer vleis op die liggaam verteenwoordig.