ATKV help Onderwysers in die Vrystaat
Die ATKV gaan slypskole en indiensopleidingkursusse in Oktobermaand in die Vrystaat hou.
Die Vrystaatse onderwysers wat Afrikaans deel van die Leerarea Tale onderrig, is vanjaar gekeur as die ATKV se teikengroep vir hulp en opleiding vir onderwysers wat Afrikaans as derde en vierde taal onderrig.
Met hierdie poging wil die ATKV Afrikaans in die klaskamer deur middel van aktiwiteite, opwindend en genotvol laat geskied asook in lyn bring met die eise van die nuwe uitkomsgebasseerde kurrikulum.
Daar is verskeie kundiges wat sal help met aanbiedings in verskillende afdelings van die taal. U kan ook met Olga skakel oor die moontlikheid van ‘n produkuitstalling tydens hierdie lesings wat in al vyf distrikte, Motheo (Bloemfontein en omgewing), Xhariep (Suid- en Wes-Vrystaat), Noord-Vrystaat, Thabo Mofutsanyana (Phuthaditjhaba, Bethlehem, Oos-Vrystaat) en Lejweleputswa (Welkom, Odendaalsrus, Viljoenskroon, Bothaville, Winburg en dele van die Wes-Vrystaat) van die Onderwysdepartment sal plaasvind.
Almal wat dieselfde belangstelling vir Afrikaans koester word vriendelik versoek om hierdie wonderlike poging finansieël te ondersteun. Vir meer inligting kan Olga Sema gekontak word by (011) 886 4888.