Vol program vir Dwaalboom Oesdag.
DWAALBOOM – Die jaarlikse Oesfees van Dwaalboom vind vanjaar op 10, 11 en 12 Junie plaas.
Donderdag om 11:00 skop die fees af met die jongbeesveiling.
Vrydag se hoogtepunt is sekerlik weer die aanwysings van die Mnr en Mej Dwaalboom. Dit vind van 18:00 tot 21:00 plaas. En net daarna tot laat aand sal die Wiltons-orkes hulle deel bydra, sodat die feesgangers kan kapperjol tot hul tonge op die grond hang.
Die boere beskou natuurlik die boer van die jaar kompetisie as die hoogtepunt en die vind Vrydag om 15:00 plaas.
‘n Meganiese demonstrasie en aksiekrieket, is ook op Vrydag se program.
Saterdag skop die oggend om 08:00 af met geweer- en kleiduifskiet. Die talentkompetisie om 10:00 het in die verlede bewys dat hier nogal baie goeie talent in die bosveld is. Gaan luister gerus of skryf sommer in.
Trompoppies, ‘n perdevertoning en bulletjie rugby sorg verder vir genoeg vermaak. Maak net seker dat jy definitief al die stalletjies met die lekker kos en verversings ook besoek.
Blackie Swart tree vanaf 18:00 tot 20:00 op en die aand word met die Wiltons-orkes afgesluit.