General

PUK bied weer musiekkamp aan

Vir die sesde agtereenvolgende jaar bied die Skool vir Musiek by die Noordwes-Universiteit ‘n opwindende musiekkamp vir musiekleerders by die Konservatorium in Potchefstroom aan. Die musiekkamp begin op Woensdag 14 Julie en duur tot Saterdag 17 Julie 2004.
Gedurende die kamp kan musiekleerders hulle voorbereiding voltooi vir die praktiese en teoretiese Matriek- en UNISA-eksamens wat later vanjaar plaasvind.  Benewens daaglikse privaat lesse deur die personeel van die Skool vir Musiek in klavier, orrel, fluit, of sang, sal daar ook klasse in musiekteorie en gehooropleiding aangebied word.  Verder sal die kamp ook verskeie prikkelende en stimulerende aktiwiteite insluit, soos “Ontspanning en Optimale Liggaamsintegrasie vir stresvrye uitvoering”, Afrika-musiek en -instrumente, musiektegnologie, jazz & populêre musiek, en vele meer.
Daar sal ook interessante musiekvideos vertoon word, en die musiekkamp sluit konserte in deur die personeel en studente van die Skool vir Musiek, sowel as die deelnemers self.
Die musiekkamp is nie beperk tot Matriek- of musiekleerders wat noodwendig vir enige eksamens ingeskryf is nie. Enige musiekleerders wat sommer net wil saam kom musiek maak, is ook baie welkom om die musiekkamp by te woon.
Die kursusfooi beloop R375,00 en dit sluit alle lesse, lesings, ander aktiwiteite, en die meeste etes in. Verblyf (bed & ontbyt) kan vir deelnemers gereël word teen ‘n billike tarief.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 11 Junie 2004. Vir verdere besonderhede en ‘n inskrywingsvorm, skakel gerus vir Jaco van der Merwe by tel. (018) 299-1699/2, faks. (018) 299-1707, e-pos muspjvdm@puk.ac.za, of besoek die musiekkamp webblad by http://www.puk.ac.za/music/musiekkamp/.