Baie skoukampioene op Wes-Voere dieet
THABAZIMBI – Diere floreer op Wes Voere se mengsel en het sommer vroeg vanjaar al op die eerste skou afgeskop met besondere prestasies.
Die drie Thabazimbi Boere, wat Wes Voere voer, Louis Trichardt, Danie Vos en Pieter Nel het uitstekende diere vertoon. Al drie het beeste tydens die Lephalale (of te wel Ellisras) skou vertoon.
Louis Trichardt het buiten die titel van Opperste Kampioen met sy “skoukoningin” Limousine-koei, elf ander afdelings met sy agt inskrywings, voor ander se neuse weggeraap (Sien voorbladfoto Die Kwêvoël Vrydag 21 Mei).
Danie Vos het die Kalf Kampioen Simmentaler bul en vers afdeling verower.
Pieter Nel het die groot Kampioen Limousine bul en nog drie ander ingepalm.
Callie en Erika Lee van Simlee Stoetery, is ook vurige Wes Voere ondersteuners, want sy Simmentaler stoet floreer ook met Wes Voere.
Simlee Stoetery het Dinsdag 25 Mei hul sesde produksie veiling aangebied. Vleissentraal het die veiling waargeneem. Kopers van sover as Swellendam en Port Elizabeth het opgedaag.
Callie is baie in sy noppies met die pryse wat die vee behaal het. Die een en twintig bulle het ‘n gemiddeld van R16120 gehaal. Die hoogste prys van R40000 is vir die bul Simlee Bensal CE01107 betaal deur Paul Snyman van Zeerust.
Peet Nienaber van Rustenburg het die hoogste prys vir ‘n vroulike dier, naamlik R15000 betaal. Die meeste van die skoue lê nog voor en die diere wat op Wes Voere mengsels gevoer is vertoon baie goed. Nog heelwat trofeë kan vanjaar deur die Bosvelders ingepalm word.