General

Thabazimbi ook betrek by Kankerdag

THABAZIMBI – Wêreld Kankerdag is op 5 April en vanjaar gaan gepoog word om Thabazimbi inwoners meer by die saak te betrek. Australië het Suid Afrika uitgedaag oor watter land die meeste mense gaan hê wat hulle hare op een dag laat borselkop skeer of kleur ten bate van kanker. Thabazimbi wil Saterdag 3 April hulle deel bydra met die volgende aktiwiteite. Besighede word uitgedaag vir ‘n vlotkompetisie, immers het die Krokodilrivier na ‘n baie lang droogte weer water in. Privaat mense kan ook saamspan vir ‘n vlotvaardery.
Pryse word geborg vir die mooiste vlot (dink net aan jou eie vlag wat jy kan ontwerp), die vlot met die meeste gees en die wenvlot. Pryse word ook uitgedeel vir die kortste hare en vir die kleurvolste hare.
Hare kan selfs by die wegspringplek deur kundiges bont gesprei word. Mans en dames word apart beoordeel. Nie net met die vlotte nie. Vlotte wat wil deelneem, moet ‘n donasie vir die Kankervereniging gee. By die eindpunt gaan worsbroodjies teen slegs R5 elk, vir die Kankervereniging verkoop word. Skakel die volgende persone vir meer inligting: Len by 082 375 1689, Danie by 082 446 0062 of Ronel by 083 459 4904.