General

Plaaslike veeartse doen ervaring op in buiteland

THABAZIMBI – Die veeartse verbonde aan Thabazimbi Dierekliniek glo nie net in doeltreffende dienslewering nie maar ook om hul ervaringsveld te verbreed.
So het dr Joe Gray sy eksamens in Kanada afgelê om te kwalifiseer om as veearts daar te kan werk. Nadat hy geslaag het, was hy in ‘n praktyk in die provinsie Manitoba werksaam.
Na sy terugkeer het sy vennoot, Dr Johan Nel, na Hong Kong, China, vertrek.
Hong Kong was tot onlangs toe nog onder Britse beheer voordat dit terug aan China oorhandig is. Die eiland is ongeveer 250vk km groot en het ‘n bevolking van bykans 8 miljoen mense van verskillende nasionaliteite van oor die hele wêreld.
Meeste van die kleindier-praktyke waaraan hy verbonde was, se pasiënte het bestaan uit honde en katte, alhoewel ander troeteldiere soos hase, reptiele en chinchillas ook behandel is. Die reuse kommunikasie probleme is oorbrug deur gebruik te maak van tolke. Gedurende hierdie tydperk het Johan saam met heelwat spesialis veeartse gewerk wat die praktyk van tyd tot tyd besoek het.
Hier het hy die geleentheid benut om van die goedkoop tegnologie wat in Hong Kong beskikbaar is aan te skaf. Thabazimbi Dierekliniek beskik nou oor die nuutste narkose-moniteringstelsel wat op ‘n deurlopende basis E.K.G, suurstofvlakke in die bloed, temperatuur, asemhaling en bloeddruk neem.
Die sosiale kant van sy verblyf is nie afgeskeep nie en hy het onder andere die Chinese nuwejaar saam met die Oosterlinge deurgemaak. Hy kon in dié tyd steeds sy sport beoefen en het die Chinese Martial Arts (Wing Chun) lesse by die 81 jarige Grand Master self ontvang.
Johan beoog om op ‘n gereelde basis Hong Kong te besoek en daar afloswerk vir kort periodes te doen.
Thabazimbi Dierekliniek se ander veearts, Dr Angelique Smith, wat afgelos het tydens sy afwesigheid, is steeds werksaam by Thabazimbi Dierekliniek. Sy beoog om in Mei na Engeland te vertrek om ook haar veeartseny kennis te verbreed. Almal hoop om haar weer in die bosveld te sien wanneer sy na Suid Afrika terugkeer.