Dogtertjie wees na ma se drie maande stryd
THABAZIMBI – Yolandé du Preez het na 82 dae in die hospitaal die stryd gewonne gegee en is op Saterdag 6 Maart oorlede.
Yolandé (27) en haar man Roelf, hulle babadogtertjie Karla en Yolandé se jonger sussie, was op 15 Desember tussen Polokwane (Pietersburg) en Tzaneen opreis, toe hulle in ‘n botsing met ‘n 8 ton vragmotor was. Roelf is opslag dood.
Yolandé het veelvuldige inwendige beserings opgedoen en was in die waakeenheid tot haar dood. In die tyd is sy nege keer geopereer.
Haar ma Wilna Fraser, wat in Polokwane woon het daagliks dagboek van haar vordering gehou.
Yolandé wat permanent in ‘n koma was weens die medikasie, het op 20 Februarie bygekom. Dinsdag 25 Februarie het sy vir drie ure in ‘n stoel gesit, weens al die pypies kon sy nie praat nie, maar sy kon skryf. Haar ma sê “haar skrif was nog steeds so pragtig soos altyd”.
Die volgende dag was haar koors, bloeddruk en hartklop hoog. Die 27ste Februarie is sy weer geopereer. ‘n Blasie wat op die beskadigde longe gevorm het, het gebars en tydens die operasie het nog een gebars.
Sedertdien het sy vinnig verswak. Woensdag 2 Maart het die medici gesê hulle kan niks meer doen om haar te help nie. Sy het so verswak dat sy slegs 24,7kg geweeg het.
Klein Karla word nou 27 Maart 2 jaar oud en woon tans by Roelf se ouers Elias en Bella du Preez in Tzaneen.
Sy en Yolandé se jonger sussie het nie beserings opgedoen nie. Beide was ‘n paar dae na die ongeluk in die hospitaal vir observasie.
Yolandé, wat by Bateleur gewerk het, sal onthou word vir haar spontane en vriendelike geaardheid. Sy en Roelf, ‘n Eskom werker, was sedert Februarie 1999 in Thabazimbi woonagtig. Die egpaar is op 27 November 1999 getroud.
Die begrafnis is vandag (Vrydag 12 Maart) om 10:00 uit die Logo’s PPK gemeente Polokwane. Ds Gert Kok en dr Johan Oosthuizen sal die diens en begrafnisrede waarneem.
Yolandé laat haar dogter Karla, ouers Eugene en Wilna Fraser en skoonouers Elias en Bella du Preez na.
Yolandé se ma bedank Thabazimbi gemeenskap vir die belangstelling en gebede. Hulle beplan om einde Maart vir ‘n paar dae in Thabazimbi tuis te gaan, om die woning op te ruim en sy hoop om dan persoonlik kennis te maak.