General

Boer onwelkom op eie grond

THABAZIMBI – ‘n Plaaslike boer, mnr Johan Pienaar, gaan binnekort sy vete met die Departement van Onderwys in die Pretoriase hooggeregshof verder voer.
Pienaar, wat trustee is van ‘n trust wat in 2000 die plaas Spitskop in die Thabazimbi-omgewing gekoop het, word na bewering soos ‘n gevangene op sy eie grond deur die Departement behandel.
Volgens mnr Pienaar word hy gedwing om die bouvallige plaasskooltjie op sy grond aan die gang te hou. Dit terwyl hy die een was wat vir die aanlê van waterpype en -tenks uit sy eie sak betaal het sodat die nagenoeg 220 kinders ten minste lopende water kon hê.
Die Departement van Onderwys het onlangs die stryd ‘n stappie verder gevoer deur ‘n interdik teen Pienaar te kry waarvolgens hy nie naby die skool mag kom of met die onderwysers mag praat nie.
Mnr Pienaar het weer die hulp van ‘n raadgewende ingenieur ingeroep. Volgens dié se verslag is die gebou tans lewensgevaarlik en behoort geen kinders op ‘n daaglikse grondslag daar tyd te spandeer nie.
Pienaar voer verder aan dat daar geen rede bestaan vir die kinders om in sulke haglike omstandighede skool te gaan nie, aangesien daar reeds ‘n splinternuwe skool in Regorogile bestaan wat, alhoewel onbenut deur die Departement, die woonplek van ‘n groep plakkers geword het.
Voorts is dié skool baie nader as die sestien kilometer wat die kinders elke dag na die plaasskool toe moet stap aangesien dit in Regorogile is.