General

Oud-Thabazimbiër vaar goed met fietsry

THABAZIMBI – Hennie Pelser wat op Thabazimbi groot geword het en ‘n oudleerling van Hoërskool Frikkie Meyer is, doen op hierdie stadium redelik goed in die veterane afdeling (30 – 35) fietsry.
Hennie het ongeveer drie jaar gelede begin fietsry, en is hierdie jaar gekies vir die veteraanspan wat deur Cedar Vadek geborg word. Die span neem aan die meeste van die groot wedrenne regoor die land deel, partymaal tot twee keer per naweek, en sal ook in drie van die groot toere deelneem. Hierdie is die vyfdag Tour de Eden (die ou Rapporttoer), die driedag Tzaneen Tropicall toer, asook die vierdag veterane toer.
Verder gaan hy ook aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem wat in Maart by die Uniegeboue in Pretoria plaasvind. Hy vra dat die mense vir hom moet duim vashou vir hierdie 138km wedren. Dit gaan ‘n rowwe stryd wees aangesien hulle eers om 12:00 wegspring.