RPO Limpopo kongres
Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het RPO Limpopo geluk gewens met ‘n baie suksesvolle kongres wat op Woensdag 25 Mei op Potgietersrus aangebied was.
Joubert het gesê van die belangrikste probleme wat die RPO nou dringend aandag aan moet gee is die bestryding van Snotsiekte en Bek-en-Klouseer siekte. Hy het ook gesê dat die sterk rand, gesubsidieerde invoere, instelling van vryhandel in Suidelike Afrika en vyandige wetgewing van die vernaamste sake is wat aandag moet kry.
Joubert het die nuwe bestuur geluk gewens en die hoop uitgespreek dat die RPO nouer bande met TLU-SA sal nastreef. Hy het gesê TLU-SA wil baie graag met alle bedryfsorganisasies saam werk tot voordeel van alle landbouers in Suid-Afrika. Hy het veral die nuutverkose voorsitter, mnr Petrus van Heerden uitgenooi om op ‘n gereelde basis met TLU-SA Noordstreek in gesprek te tree.
Joubert het bygevoeg dat die RPO groot uitdagings in die gesig staar, maar dat hy volle vertroue in die nuwe bestuur het dat die probleme daadwerklik aangepak sal word en dat sinvolle oplossings gevind sal word.