Sport

Naboompark Ope – Jukskei uitslae

NABOOMPARK – Naboompark het op Saterdag 28 Mei ‘n goeie opkoms gehad ter stywing van hul klub se finansies.
Dit is ‘n jaarlikse instelling en 20 spanne het opgedaag van sover as Mokado en Pretoria. Daar was meegeding in afdelings A, B en C en vir die innerlike was daar heerlike verversings.
Die eerste drie spanne het goud, silwer en brons medaljes verower.
Afdeling A (ses spanne): Voortrekker (Pretoria) behaal die eersteplek met 45 punte. Dubbel Bells (Pretoria) behaal die tweedeplek met 41,5 punte en die derdeplek word volgestaan deur die Tarentale met 41,5 punte (hulle het die span van Pretoria die tweede prys laat ontvang – ‘n mooi gebaar).
Afdeling B (ses spanne): Die Korhane van Nylstroom behaal hier die eersteplek met 55 punte, in die tweedeplek is Naboompark met 44 punte en kort op hul hakke in die derdeplek, die Steenbokke van Polokwane met 40 punte.
Afdeling C (agt spanne): Die Patryse (Pretoria) wen in dié afdeling met 73,5 punte, die naaswenners is Soutpan (Mokado) met 61 punte en Naboompark 1 in die derdeplek met 60 punte.
Die volgende byeenkoms van die Noordelike Provinsie is die jaarvergadering op 11 Junie te Polokwane. Die bestuur, junior bestuur en twee afgevaardigdes van elk van die 11 klubs asook die afgevaardigdes van die skeidsregters sal om 10:00 hul plekke inneem.
Besoekers is welkom, maar sal nie stemreg hê op die vergadering nie.
Vir enige navrae, kontak gerus Martie Nell, media skakelbeampte van Noordelike Provinsie by tel (014) 733 0611 of 083 532 1960