General

Kollektiewe bedinging nou nodig

Die president van TLU-SA, mnr Paul van der Walt, het gesê die pad van landbou is tans gesaai met ‘n verskeidenheid ernstige vraagstukke wat vir die individu dit haas onmoontlik maak om in eie reg vir dit alles oplossings te kan vind.
Van der Walt het tydens die Nampo kongres gesê dat die krag van kollektiewe bedinging se waarde sal in die tyd tot sy reg moet kom. Hy het bygevoeg dat daar net te veel rolspelers betrokke is in die landbou-omgewing wat hoegenaamd geen ekonomiese kriteria in hul besluitneming gebruik nie, maar wat hul laat rig deur ideologiese- en politieke denke.
Konsekwent het TLU-SA die kommersiële boer se belang met ekonomiese argument behartig en voorop gestel. Gewildheid van leiers was nog nooit ‘n beweegrede vir keusemaking nie, maar slegs die strewe om ‘n kommersiële boer volhoubaar en veilig op sy of haar grond te hou.
Van der Walt dat die volgende doelwitte van TLU-SA is: Ekonomiese beginsels in landbou te laat seëvier; stabiliteit in die landelike gebiede na te streef; kommersiële landbou in uiters moeilike en regerings vyandige omstandighede te laat lewe; kundigheid in die landbou omgewing tot voordeel van die land se ekonomie te benut en ook om ‘n nie politieke naprater van enige politieke party te wees nie.
Hy het bygevoeg dat persone en organisasies hulself indringend moet afvra waarheen hul oppad is indien hulle soos skoothondjies agter politici aan draf en gedienstig en gedweë politieke partye se ideologieë tot uitvoer bring. Vele kere omdat die politici nie oor die vermoë beskik om dit te kan doen nie en maar te dankbaar is indien daar ‘n ‘gewillige slaaf’ is om dit te doen.
Van der Walt het gesê dat Suid-Afrika nie die kapasiteit het om die luuksheid van verwronge ideologie te bekostig nie. Hy het alle grondeienaars gevra om saam te staan sodat die voordele van kollektiewe bedinging tot almal se voordeel ontdek kan word.