Bela-Bela Fees hou vakansiegangers aan die gang
BELA-BELA – Die afgelope naweek was dit tyd vir die jaarlikse Bela-Bela fees.
Die fees is Donderdag afgeskop en verskeie kunstenaars het vir vermaak gesorg. Die hoofdis was natuurlik Eden se optrede Saterdagaand waar hulle op ‘n effe beknopte verhoog en in ‘n nog meer beknopte biertent steeds daarin geslaag het om hulle bewonderaars te beïndruk. Eden is gevolg deur die bekende en gewilde kunstenaar in die Bosveld, Thysie die Bosveldklong.
Buiten die lewendige vermaak het etlike uitstallers hulle ware ten toon gestel. Van allerhande snuistery tot eksklusiewe motorvoertuie is uitgestal. Die stof het hier ‘n bietjie gepla en daar is beslis ‘n hele paar voertuie wat ‘n valet gaan benodig voordat hulle weer op die vloer uitgestal sal kan word.
‘n Item wat heelwat feesgangers se aandag getrek het was die manne van die Red Yamaha Freestyle MX Team. Hierdie jongklomp het gewys hoe hulle behoorlik soos Superman met hulle motorfietse deur die lug vlieg, dit terwyl hulle boonop nog allerhande toertjies uithaal. Op stadiums het dit gelyk asof man en motorfiets nooit bymekaar sou uitkom voordat hulle die grond tref nie, maar elke keer was die man stewig in die saal as die wiele kontak met die grond maak.
Die Aventura vakansieoord bied ook nog goeie waarde vir jou geld en dit was lekker om by die chalet te kuier, bietjie fees te gaan hou en luilekker die Sondag in die warm swembaddens deur te bring.