AgriSEB is nie haalbaar nie
Die voorsitter van TLU-SA Noordstreek, mnr Dries Joubert, het gesê dat TLU-SA deurlopend in hul besprekingsdokument, tydens die bestuurskomitee, sy standpunt onomwonde gestel het dat AgriSEB nie haalbaar is nie.
Nie alleen bedreig dit wettig verkryde eiendomsreg nie, maar dit verdeel ekonomiese eenhede tot onekonomiese eenhede en dat dit sal lei tot die ondergang van kommersiële landbou. Verantwoordelikhede van die Staat met betrekking tot opvoeding en geletterdheid word eensydig gedelegeer na ‘n ekonomiese sektor wat nie oor die bronne (finansieel en kundigheid) beskik nie.
Die gesag wat aan die Minister van Landbou en Grondsake en gevolglik, aan die Grondeise kommissarisse in die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte verleen word, skrap ‘n behoorlike regsproses in grondonteiening. Dit is vir TLU-SA onaanvaarbaar.
Die element van dwang, afpersing, intimidasie en afdreiging wat in die dokument vervang word, is onaanvaarbaar. Sulke optrede in die burgerlike bevolking is strafbaar in ‘n kriminele hof, maar dit lyk asof die regering verhewe bo die reg is.
Daar bestaan praktiese, haalbare en voldoende alternatiewe om die toetrede van swart boere tot die landbou sektor moontlik te maak. TLU-SA sal graag wil sien dat meer boere (nie net swart boere nie) tot die landbou toetree.
Die benutting van staatsgrond, grond wat op die opemark beskikbaar is, en boere wat reeds hulle grond vir grond herverdeling beskikbaar gestel het, sal tot beter resultate asook gesindhede lei.
Mnr Joubert het gesê hy hoop dat die ANC regering spoedig tot inkeer sal kom en die vyandige, diktator style optrede laat vaar en besluit om saam met georganiseerde landbou te werk tot voordeel van almal in Suid-Afrika.
