Week 5 – 3 Februarie 2012
Dit is dalk ‘n foefie en baie besighede is daarop ingestel om ‘n paar manne verleë te laat voel en hulle sakke laat skud omdat hulle hul wederhelf die laaste tyd dalk ‘n bietjie afgeskeep het. Tog is daar ‘n goeie bybedoeling – amptelik bied dit aan jou die geleentheid om aan iemand spesiaal te sê ek is lief vir jou, ek gee om, ek waardeer jou en nog talle ander boodskappies. Nie almal het die moed om dit gereeld te doen nie en voel verleë om dit teenoor ander te beken. Ons praat hier natuurlik van Valentynsdag, amptelik 14 Februarie en beslis nie ‘n heidense gebruik nie.
Laat die jongklomp hul gerus vermaak met die Valentynspeletjie van geheime boodskappies en romantiese tye saam. Dit is tog waaruit jong liefde bestaan.
Vir die ouer garde hoef dit nie net by jou geliefde te bly nie. Deel dit ook met jou kinders, en jou vriende wat vir jou spesiaal is. Breek weg van die stereotipe Valentynsdag en deel eerder ‘n gesellige aandjie saam met die persone wat vir jou belangrik is in jou lewe.
Die belangrikste is om kwaliteit-tyd in te ruim in hierdie gejaagde lewe waarin ons onsself bevind. Kwaliteit-tyd waartydens jy en diegene wat vir mekaar omgee bietjie van die gewone dag se dinge wegbreek. Miskien die aand die kleintjies by ‘n babaoppasser los en net op jul eie of saam met jou naaste vriende ‘n aand se kuiertjie inruim.
Trakteer mekaar en kuier saam soos toe julle nog dolverlief was. Vind opnuut uit hoekom julle steeds bymekaar is en maak dit weereens iets spesiaal.
Moenie dit tot op die nippertjie los nie. Beplan nou reeds aan wat jy gaan doen om jou geliefdes te wys hoe jy oor hulle voel. Dalk is dit net om ‘n kersie op die etenstafel te sit en ‘n spesiale lekkernytjie daarna. ‘n Voetmassering vir ma wat heeldag op haar voete was om die huis in orde te kry en die kinders te versorg. ‘n Spesiale verwelkoming vir pa, of ma, as hulle huis toe kom na werk. Enigiets om te wys dat jy hulle waardeer en vir hulle omgee.
Ons beland so maklik in ‘n groef en aanvaar diegene om ons as vanselfsprekend. Of dit jou man, vrou, kinders, ouers en vriende is, ons almal doen dit. Breek weg, al is dit nie hoe jy is nie. Gebruik hierdie een dag in die jaar om saam met duisende mense wêreldwyd aan diegene om jou te wys dat jy omgee.

