Posted on 06 February 2012.

Die netjiese selfsorg tuinwoonstelle het elk hul eie privaat ingang. Hierdie woonstelle bied slaapplek vir vier tot ses persone en is ideaal vir klein gesinnetjies.
Vir ‘n bekostigbare naweek- of vakansiewegbreek na die Suid-kus kan jy gerus die Casa Mia Gastehuis in Umkomaas oorweeg. Hier word die klem op ontspanning en kwaliteitdiens geplaas om te verseker dat hul gaste se verblyf so gemaklik en ontspanne as moontlik is.
Casa Mia Gastehuis is sowat 45km suid van Durban en ongeveer 100km noord van die Wild Coast Sun. King Shaka Lughawe is sowat ‘n uur se ry van hulle af vir diegene wat eerder wil afvlieg en ‘n motor wil huur tydens hulle verblyf.
Verskeie veilige swemstrande is binne loopafstand vanaf die gastehuis. Die sondek bied ‘n panoramiese uitsig oor see en met die voortdurende agtergrond gedreun van die branders wat op die rotse en strande breek kan jy die rustige see-atmosfeer ten volle geniet.
Al die kamers en selfsorg eenhede is toegerus met volledige badkamers, TV’s, kroegyskaste en dakwaaiers. Elke kamer en selfsorgeenheid beskik ook oor ‘n klein sluitbare kluis vir waardevolle items.
Buiten die vier en-suite dubbelbed-gastekamers, waarvan drie twee persone akkommodeer en een oor ‘n bunkerbed beskik, ideaal vir ‘n klein gesinnetjie, is daar nog vyf selfsorgeenhede, elk met sy eie buiteingang. Hierdie eenhede bied slaapplek aan vier tot ses persone. Beddegoed en handdoeke vir gebruik in die gastehuis is by alle kamers en selfsorg woonstelle ingesluit.
Vir elke eenheid en kamer is daar ten minste een parkering agter die veiligheid van ‘n gemotoriseerde skuifhek beskikbaar.
Die sondek is nie die enigste plek waar gaste kan ontspan nie. Daar is ook nog ‘n sitkamer met DStv en lugversorging, die stoepsitkamer en ‘n lekker leeshoekie waar jy rustig een van die talle boeke uit hulle versameling kan leen om te lees, indien die weer jou dalk dwing om binne te bly.
‘n Swembad, onderdak potspeltafel en braaigeriewe laat jou toe om die heerlike buitelug te geniet as jy nie lus is vir die strand se gewoel nie.
Casa Mia glo daarin om die plaaslike entrepreneurs te ondersteun en met die talle restaurante in die omgewing, word gaste eerder aangemoedig om op ‘n gastronomiese reis te gaan. Kos is van uitstaande gehalte en baie billik geprys. Op hierdie manier bied dit aan besoekers die geleentheid om die Suidkus te verken en nuwe vriende te maak.
Buiten die gewilde U Shaka akwarium en waterwêreld in Durban is daar baie besienswaardighede in die onmiddellike omgewing.
Een van die grootste krokodilplase in Suid-Afrika is slegs 4 km vanaf Casa Mia. Die Aliwal-rif, een van die bekendstes in die wêreld is neffens Umkomaas. Duik-entoesiaste kan een van die talle diepseeduikondernemings kontak vir duikuitstappies na hierdie rif. Gaste wat by Casa Mia oorbly kwalifiseer ook vir afslag indien hulle op ‘n duikekskursie sou wou gaan.
Binne ‘n 30km radius van die gastehuis is daar ‘n totaal van ses 18-putjie gholfbane om vanuit te kies. Voëlkykers is ook welkom om hulle verkykers in te pak – die Empisini Natuur Reservaat is slegs 1km vanaf die gastehuis.
Ongelukkig word geen troeteldiere toegelaat nie.
Reëlings is met ‘n plaaslike wassery getref vir die was en stryk van wasgoed teen addisionele koste.
Vir meer inligting, skakel die bestuurder, Wally by 039 973 2170 of sel 076589 6679. Besoek ook hul webblad by www.casamiakzn.co.za vir verdere inligting en besprekings. E-pos kan gestuur word aan info@casmiakzn.co.za.
Casa Mia in samewerking met Die Kwêvoël bied aan een paartjie die geleentheid om vier nagte (mid-week) vanaf die Sondag tot Donderdagoggend, gratis by hulle oor te bly. Hierdie prys beloop R2400.
Die voorwaardes hieraan verbonde is die volgende:
Slegs die verblyf vir twee persone wat deel in ‘n enkel dubbelbed-gastekamer in die gastehuis (en-suite) word gedek.
Vervoer na en vanaf die gastehuis, asook alle ritte na bestemmings tydens die verblyf is die verantwoordelikheid van die wenner van die kompetisie wat self die koste hiervoor moet dra.
Geen etes word verskaf nie.
Prys slegs geldig vir 3 maande, slegs buite seisoen.
Wenner moet ten minste twee weke vooraf bevestig of hulle wel geakkommodeer kan word. Vroegtydige bespreking is dus noodsaaklik.
Nie die bestuur van Casia Mia Gastehuis of Die Kwêvoël, vat enige verantwoordelikheid vir enige toevallige voorval wat die wenner verhoed om van die wenprys gebruik te maak nie.
Die prys kan nie vir kontant verruil word nie.
Geen korrespondensie sal oor die uitslag van die kompetisie toegelaat word nie en die besluit van die beoordelaars is finaal.
Sien die inskryfvorm vir die kompetisie in die Casa Mia advertensie elders in die Kwêvoël.