Plaaslike Koerante verdwyn Wêreldwyd

Buiten die nasionale-vlak koerante wat daarin kon slaag om hulle besigheid te stabiliseer, het digitalisering ’n vernietigende effek op die wyer industrie gehad met plaaslike koerante wat ’n skerp daling in inkomste met laer verspreidingsyfers en dalende advertensieplasings ondervind.

Baie koerante wat wel digitaal beskikbaar is, ondervind probleme om hulle lesers te oortuig om te betaal vir die nuus wat hulle ontvang.

Volgens ’n verslag van The Wall Street Journal het sowat 1 800 koerante sedert 2004 as gevolg hiervan in Amerika hulle deure gesluit en baie koerant-werkers verloor hulle werk waar hulle deur kompetisie-koerante oorgeneem word.

Dieselfde verslag vermeld dat hierdie tendens wêreldwyd merkbaar is en selfs in redelike afgesonderde lande soos New Zealand, word bemerk dat die plaaslike koerante wat eens ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel het, vervang word met koerante vanuit groter sentra met dieselfde berigte en advertensie in verskeie koerante. Die plaaslike nuus-komponent het weggeval. baie van hierdie nuwe joernaliste maak op instansie staat om berigte deur te stuur wat gewoonlik net so ongeredigeerd geplaas word.

Kwêvoël, wat steeds ’n diens aan die Thabazimbi en wyer omliggende gemeenskappe bied, het reeds die oplossing met die Digitale aanlyn Nuusbrief.

Buiten plaaslike nuus, dra dit ook verskeie interessante brokkies wat selfs wêreldwyd gaan asook video’s oor ’n verskeidenheid onderwerpe wat direk vanaf sosiale media met lesers gedeel word. ’n Onlangse berig wat so gedeel word, is reeds meer as 4 000 keer net vanaf Kwêvoël se plasing gedeel. Met so ’n deling word dit op die vriendelys van elke persoon wat dit gedeel het geplaas, met ander woord ons praat van tien-duisende mense wat dit raaksien.

Elke persoon wat ’n berig op sosiale media lees gaan dit nie noodwendig met iemand anders deel nie. Hier kan elkeen maar sy eie sommetjie maak om te besef hoe wyd die berig gelees is dat dit meer as 4 000 keer gedeel is.

Dit gaan jy beslis nie regkry met ’n publikasie wat ’n beweerde oplaag van 4 000 tot meer as 25000 het nie.

Kwêvoël het beslis die effek duidelik gevoel met ander bydraende faktore soos die tekort aan vlakdruk-papier in Suid-Afrika aangesien die koerant in-huis gedruk is.

Nuus in Kwêvoël was altyd en sal steeds in die toekoms gratis wees. Dieselfde beginsel geld steeds, naamlik dat die koerant, gedruk of digitaal, steeds ’n diens aan besighede bied deur dit tot by die lesers te bring wat hulle advertensies kan raaksien.

Waar die gedrukte oplaag konstant op 3 000 koerante weekliks gestaan het, het Kwêvoël huidig meer as 6 300 weeklikse volgelinge op sosiale media met tot 30 000 poste wat in een week oopgemaak word. Hierdie syfers word deur die administreerders van die sosiale bladsy verskaf en word fisies aangeteken soos ’n leser ’n spesifieke berig of advertensie oopmaak om te lees.

Buiten vir ’n lokfoto en opskrif, word die advertensies en berigte geheel op Kwêvoël se tuisblad gedra waar daar ook gekontroleer kan word hoeveel lesers die verskillende poste direk op die tuisblad oopgemaak het sonder om eers deur die sosiale bladsy te gaan. Hierdeur kan omtrent nog 2 000 poste weekliks by die sosiale bladsy syfers getel word.

’n Tekort aan lesers is nie die probleem nie. Die probleem is meer gesentreer by besighede wat hulself nie op hoogte van sake hou met die tipe en gehalte van verslaggewing wat die media in sy teikengebied aan die leser bied nie.

Dit het ’n besliste uitwerking op hoeveel mense die koerant lees en kan die oplaagsyfer, soos deur die publikasie aangetoon, deeglik beïnvloed.

Dit dra dan ook toe tot die sukses van advertensieblaadjies aangesien nuus wat die lesers lok om ’n advertensie raak te sien, nie ’n rol speel nie. Die adverteerder word oorweldig met ’n mooi prentjie en gelei deur ’n goeie verkoop-agent in sy besluitneming om ’n advertensie te plaas, en nie of dit die besigheid se teikenmark gaan bereik nie.

Ongelukkig verkeer die besighede steeds in totale duisternis oor hoeveel mense sy advertensie in die gedrukte media raakgesien het.