SA Weerdienste voorspel koue met sneeu op Drakensberge

Die Suid-Afrikaanse Weerdienste verwag dat die koue front wat die Kaapse Skiereiland en Wes-Kaap vandag (Dinsdag 2 Oktober) gaan bereik, teen more ooswaarts oor die Noord-Kaap gaan skuif en koue weer ook oor Gauteng gaan teweegbring.

’n Groot daling in maksimum temperature word ook vanaf Donderdag oor Mpumalanga voorspel.

Sneeu word vir Woensdag in die Drakensberge en aanliggende gebiede in KwaZulu-Natal voorspel. Volgens voorlopige data kan die sneeuneerslag die ergste van die seisoen wees.

Die eerste sneeu word voorspel vir vroeg Woensdagoggend in die Tiffindell en Rhodes gebiede in die Oos-Kaap wat teen die middag sal uitbrei na die Oos-Kaapse Drakensberge, die Suidelike Drakensberge asook die sentrale hoë Drakensberggebied.

Na verwagting sal die sneeuval toeneem en swaar sneeuneerslae word verwag oor die sentrale en oostelike gedeeltes van Lesotho.

Ligte sneeu word ook voorspel vir Matatielle tot by die Underberg/Himeville gebied.

Data aanwysers dui daarop dat die swaarste neerslae gedurende Donderdagoggend sal val vanaf die Maluti’s in die noorde van Lesotho asook oor die hele Drakensberge streek soos hierbo genoem.

Die sneeuneerslae sal voortduur deur Donderdagmiddag met helder en onbewolkte weer wat vir Vrydag voorspel word.

Vir die Wes-Kaap, Tuinroete, George en die Suidkus word ’n 60% kans op reën vir vandag voorspel.

Die temperature behoort Vrydag weer te styg alhoewel die koue in die Drakensberge gebied sal voortduur.