Armoedeverligting: Krediet-Wysigingswetsontwerp verkeerde instrument

“Die skepping van skuldberadingprosesse vir ‘n bevolking met ‘n werkloosheidsyfer van meer as 30% net ‘n pleister op die siekte van ‘n terminaal siek pasiënt is. Dit kan op kort termyn help, maar sal die pasiënt red nie. Derhalwe verwerp die VF Plus verwerp die Krediet-Wysigingswetsontwerp as verkeerde instrument vir armoedeverligting”, sê Anton Alberts, VF-Plus-parlementêre woordvoerder: Handel en Nywerheid.

Hoe help ʼn mens diegene met erge skuldprobleme wanneer hul situasie so benard is dat nie eens skuldberading ʼn uitkoms bied nie? Dit is een van die probleme waarvoor die Nasionale Krediet-Wysigingswetsontwerp antwoorde moet bied.

Sulke komplekse probleme vereis ʼn holisties benadering waar faktore soos die ekonomiese omgewing wat armoede veroorsaak, in ag geneem moet word. Armoede styg tans weens swak ekonomiese groei en daar bestaan ‘n breë konsensus dat die regering se beleid van inmenging in die mark, wanbesteding en korrupsie, die oorsaak daarvoor is.

Gegewe hierdie konteks is dit uiters duidelik dat korttermyn- of kosmetiese oplossings nie die antwoord is nie. ʼn Sosio-ekonomiese impakstudie oor die aangeleentheid was nie ʼn vereiste vir die finale wetsontwerp nie en dit kan negatiewe gevolge inhou.

Die impak van die wetsontwerp op die land se ekonomiese ekostelsel is onbekend. Dit kan lei tot die verdwyning van wettige kredietinstrumente en -ondernemings met ‘n gepaardgaande verlies aan werksgeleenthede en ‘n toename in onwettige kredietverlening.

Statistieke oor die huidige skuldsiklusse toon aan dat skuld afneem. Suid-Afrika is in die langste tydperk van daling in huishoudelike skuld en daar is ʼn afname in slegte lenings. Skuldbevele en dagvaarding is die laagste sedert data-rekords begin het. Dit lyk dus asof mense hul krediet beter bestuur en die huidige skuldintervensiestelsel kan ‘n bydraende faktor wees.

Ten spyte van hierdie goeie nuus, is dit duidelik dat slegs beleidsveranderings wat ekonomiese groei fasiliteer, die skuldprobleem volhoubaar sal verbeter.

In wese het Suid-Afrikaners, veral die armes, werksgeleenthede nodig om volhoubaar uit die skuldkrisis te kom. Daarom moet die departement van handel en nywerheid eerder introspeksie doen en ‘n onafhanklike studie laat doen om te bepaal watter beleid staan in die pad van ekonomiese groei en volhoubare werkskepping.

Die armes moet gehelp word, en dit kan ten beste gedoen word deur werkskepping. Deur slegs die simptome te behandel sonder om die kernoorsake aan te spreek, verleng die lyding en stel bloot die ekonomiese inploffing uit wat die ANC-regering se huidige ekonomiese beleidsrigting veroorsaak het.