Sondagkommentaar – Ramaphoria aan die taan onder Onteieningswet se Donker Wolk

Die Ramaphoria wat sedert die verkiesing oor Cyril Ramaphosa as president van Suid-Afrika geheers het, is duidelik besig om te taan, veral as gekyk word na die kommentaar deur die graderingsmaatskappy Moody’s asook Gwede Mantashe se uitlatings oor

Onteiening sonder vergoeding (EWC – Expropriation without Compensation), wat daartoe bygedra het dat die rand se waarde onbeheersd teenoor die dollar geval het.

Dit is veral die kleiner munisipaliteite en dorpe wat sterk hieronder gebuk gaan. Thabazimbi is geen uitsondering. Inteendeel, reeds sedert die inploffing van mynproduksie, die lae staalprys en die negatiewe ekonomiese groei in die vervaardigings-sektore, kry bykans niemand in Thabazimbi kopers vir hul eiendom nie.

Bloomberg berig dat indien daar enige oorblywende euphoria was na die verkiesing van Ramaphosa as president van Suid-Afrika, het dit verdwyn saam met die huidige val van die randwaarde tot vlakke wat laas gesien is tydens die heerskappy van Jacob Zuma.

Toe Ramaphosa oorgeneem het, het hy belowe om groei te stimuleer, beleggers te lok, die finansies van staats-beheerde instansies reg te ruk asook om die korrupsie wat Zuma se regering gekenmerk het, uit te roei.

Beleggers het kennis geneem en die waarde van die rand het gedurende Februarie tot ’n drie-jaar hoogtepunt toegeneem met toenemende belangstelling terwyl die land se aandele in waarde gestyg het.

Die gemoedstemming in die land is gekenmerk deur “Ramaphoria”, waarvan daar nou geen teken is nie.

Mark Bohlund, ’n Afrika Ekonoom by Bloomberg Economics, skryf in ’n verslag dat die verandering in die politieke heerskappy na Ramaphosa se bewindsoorname ’n hupstoot aan beleggers-sentiment verleen het wat gelei het tot ’n positiewe lopie vir die rand, wat nou weer in trurat gegooi is.

Beleggers kan as gevolg hiervan bekommerd raak oor hernude verval in fiskale ooreenkomste en die regering se onvermoë om die fiskale risiko’s ten opsigte van staat-beheerde instansies te bekamp.

Die stygende waarde van die dollar het finansiële insinkings in Argentinië, Rusland en Turkye se ekonomië veroorsaak, plaaslik was interne probleme in Suid-Afrika hoofsaaklik die rede dat die rand so laag gedaal het.
Mynbouproduksie, wat eens die dryfveer was wat die ekonomie aangedryf het, het getaan en het dit op die vervaardigingsektor en gebruikers-besteding se skouers gerus om hierdie traagheid te absorbeer.

Die immergroeiende gaping in die begroting het Ramaphosa se vermoë om enigsins infrastruktuur of sosiale uitgawes op te kikker totaal ingekort.

Die populistiese aanslag van Ramaphosa het hom duidelik onderskei toe hy op 1 Augustus aangekondig het dat hy konstitusionele verandering steun om Artikel 25 van die wet te skraap en daardeur die weg oop te laat vir die onteiening van eiendom sonder vergoeding. Hierdeur word eiendomsreg ondermyn wat beslis beleggers sal ontmoedig om hier te belê.

Die beleggings-beloftes wat Ramaphosa verkry het tydens sy onlangse besoek aan China en Rusland sal seker net so aangewend word om Eskom en die SAL van ondergang te vrywaar, sonder enige verdere inspuiting in die plaaslike ekonomie.

Beleggers kyk nou verder noord na aangrensende Zimbabwe en neem kennis van die beleid van gewelddadige grondbesetting, wat in die laat 1990’s begin het, wat die land se ekonomie totaal vernietig het.

Verder het Gwede Mantashe, voorsitter van die regerende ANC, Woensdag voorgestel dat wit boere geforseer moet word om “oortollige” eiendom aan die regering oor te dra, waardeur beleggers nog ’n verskoning gekry het om die rand as belegging weg te wys, dieselfde dag dat Moody’s en die Goewerneur van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, flikkerligte uitgestuur het oor die land se ekonomie. Die nuutste drol op die wolkombers is die geliefde Malema wat nou as deel van sy verkiesingsmanifes daarop aandring dat die Reserwebank deur die Staat beheer moet word, duidelik met die motief om vuil hande op beskikbare kapitaal te lê.

Henrik Gullberg, uitvoerende bestuurder van die ontluikende-markte strategiese firma, Nomura International Plc, sê dat markte sensitief is vir enige handeling soos die Zimbawefikasie beleid kragtens grondhervorming.

Nog ’n sprekende voorbeeld van die onbevoegdheid van ANC-beheerde plaaslike regerings kan gevind word in die Emfuleni munisipaliteit wat Vereeniging, Vanderbijlpark en omstreke bedien, waar al die munisipale voertuie deur Bidvest Group Ltd, teruggeneem is. Die voertuie sluit in voertuie van die verkeersdepartement, water, elektrisiteit en brandweer.

Volgens OUTA, ’n organisasie wat ingestel is op munisipale korrupsie en wanbesteding van belastingbetalers se geld, behoort munisipaliteite te weet dat diensverskaffers betaal moet word. OUTA dring daarop aan dat hierdie munisipaliteit nou ontbind moet word.

Die Nasionale Tesourie stipuleer dat diensverskaffers binne dertig dae na die uitreiking van die faktuur betaal moet word.
Tot dusver het Emfuleni Munisipaliteit nie hierdie betalingsvoorwaardes teenoor Eskom, Rand Water en verskeie ander diensverskaffers nagekom nie.

Volgens Dr Makhosi Khoza, OUTA se Uitvoerende Direkteur verantwoordelik vir plaaslike bestuur programme, beklemtoon die witskrif oor plaaslike regering, wat ook deur die Wet op Plaaslike Regerings instellings onderskryf word, die kritieke belangrikheid van die gemeenskap se betrokkenheid in die bestuur van munisipaliteite, maar by alle munisipaliteite wat ineenstort, is hierdie betrokkenheid totaal afwesig.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël