Sondag kommentaar – Aan my kinders

Data is te duur en ek het nie geld vir oproepe nie.

Nadat ek geforseer is om my besighede te sluit as gevolg van die swak ekonomie, het ek het besluit om nie verder af te betaal aan die bank-rekenings en ook nie om uit die gebou, my tuiste vir die afgelope 25 jaar, te skuif nie. Die R250 wat ek spaar kom baie handig te pas.

Na al die duisende rande wat ek aan belasting betaal, eis hulle nog ‘n paar honderd duisende van my en kom die R1600 staatspensioen darem handig te pas.

Sedert ek nie meer die R50 per rekening per maand aan die banke betaal nie, het die daaglikse treiter-oproepe (in ’n vreemde, swak en onverstaanbare Afrika-Engels) en SMS’e van die banke, Telkom en Vodacom na my selfoon opgehou.

Aan laasgenoemde twee het ek niks betaal nie, want hulle eise is geskoei op fakture waarvan hulle die oorsprong nie kan bevestig nie. Kan jy glo hulle vervolg jou vir R1000 vir ’n jaar wat jy hulle nie betaal het nie – twee jaar nadat die sogenaamde wanbetaling nie gedoen is nie? Banke en Telekom-verskaffers maak so baie geld dat hulle net oor die sente omgee.

Deurdat jy nou jouself nie meer kan bankrot verklaar nie, is krediteurs ook nie gewillig om dit te doen nie, veral nie in ’n geval soos myne waar die enigste bate reeds voluit deur ’n bankverband opgeëis word. Miskien is dit omdat hulle bang is dat die groot “Broer” van prokureurs hulle aanspreeklik kan hou vir kostes.

My gebou se versekerde waarde voor die inploffing van die myne, Thabazimbi en die land se ekonomie was R7,5 miljoen. Ek het dit vir R1,6 miljoen in die mark en steeds is daar geen kopers nie. Die bank gaan my nie maklik, tensy hulle ’n voorbeeld van my wil maak, uit die gebou sit nie. Hulle wil ook nie die gebou per veiling verkoop nie aangesien hulle weet dat hulle nie hulle geld gaan terugkry nie. Hierdie is nie ’n dreigement nie, maar ’n realiteit.

My stryd teen die banke se onredelike rentekoerse, termyne en voorwaardes in die loop van die jare ken julle – dit was alles verniet. Op die ouderdom van 55-jaar was ek destyds deur hulle as ’n risiko kliënt gereken.
Dis nou dertien jaar later en ek het tot dusver oorleef. Die somer is aan die kom en die son sal die waterpype weer bietjie opwarm vir die stort.

Ek het in elk geval ’n oop uitnodiging van my vriende om by hulle te stort en ek is welkom by elke ete. Hulle help my met my wasgoed en ek vries my bottels vir die koelboks by hulle. Vriende in die dorp het ek verseker.

Ek is net bly dat ek vir julle, my kinders, ’n huis – opvoeding met baie inmenging van die familie – en tersiêre opleiding stabiliteit kon bied om met julle lewe voort te gaan. ’n Erfporsie is daar ongelukkig nie.

As ek uit die gebou trek is die gebou oop vir vandale – dalk gebeur iets en ek kry ’n koper terwyl daar iets werkbaar is wat ek kan bied, andersins sit ek met skuldeisers wat dink dat hulle bloed uit ’n klip kan tap – net so min kan ek rande uitkak.

Ongelukkig voel ek ’n verantwoordelik op die miljoene wat ek gespandeer het om die gebou in ’n werkende entiteit met lewensvatbare eienskappe te omskep, wat ongelukkig nooit in die nuwe Suid-Afrika se realiteite gerealiseer het nie.

Die krediteure behoort hierdie scenario eerder te aanvaar, want met die onteiening van eiendom sonder vergoeding het Ramaphosa gedink hy is ’n towenaar wat ’n goedkoop populistiese beleid van die EFF kan ondersteun sonder om sy vingers te verbrand – daar is geen omkeer hiervan nie en niemand wil nou koop want hulle weet my gebou is ideale prooi vir die sotte.

Hiermee het Ramaphosa hom reeds as ondersteuner van die EFF-beleid aangedui en is hulle welkom in die ANC ter ondersteuning van die 2019 verkiesing.
Net soos die banke, dink hy dat hy oor ’n kontrak beskik wat hom teen die EFF gaan beskerm. Dit sê veel van hom as ’n sakeman met wit vennote wat buffels teen R50milj kan koop. Hy dobbel meer met Suid-Afrika se toekoms as daai uitgewaste Zoeloe beesboer.

Terwyl ek in die gebou is, kan hulle dit maar bo-op my afbrand – onder in die kelder behoort ek veilig wees. Ek het reeds my klere ook na onder geskuif – ek weet my klere is oud, maar as ek dit nie het nie, dan het ek net vuil klere om te dra.

As die besetters inkom en my doodmaak is dit moord en kan die gebou nie maklik opgeëis word nie.
Ramaphosa, glo ek, wil nie hê dat die eienaars van geboue vermoor moet word voordat hulle beslag daarop lê sonder om te betaal nie.

Ek het ’n vol lewe gehad en as dit ’n keerpunt in Suid-Afrika is, moet dit ook maar gebeur. My gebou was my pensioen waarvoor ek die gemeenskap gedien en waarvoor ek gewerk het. Ongelukkig, my kinders, is julle jul erfenis deur populistiese politiek ontneem.

Die banke glo steeds dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie, want hulle word deur die wet beskerm. Die terugbetaling van ’n verband is ’n kontrak wat hulle met jou as eiendom eienaar gesluit het en volgens hulle het dit niks uit te waai het met die gebou wat as sekuriteit aangebied is nie. Indien die gebou nie meer die sekuriteit kan voorsien nie is jy as persoon steeds gebind deur die kontrak om die res van die geld terug te betaal. Oogklappes se mosses!

Hierdie kontrakte deur die banke is gemaak met inagneming van Artikel 25 in die grondwet. Artikel 25, wat die swartes geskraap wil hê, wat lui dat jy nie van jou eiendom ontneem mag word sonder vergoeding indien dit jou voortbestaan in gedrang bring of afbreuk doen aan jou manier om vir jouself ’n inkomste te skep nie – Ek het dit reeds in ’n vorige berig oor die DA wat kiesers hieroor in Thabazimbi kom toespreek het genoem.

Onthou net hierdie eiendom sluit in, nie net plaaseiendom nie, maar ook jou woning in die dorp, stad of aan die kus, jou motorvoertuig, belegging, aandele, juwele – alles wat jy besit en wat jy jou eiendom noem.

Indien dit deurgevoer word, stem die banke toe dat die witmense (jammer ek moet die woord gebruik) die land van die swart immigrante (wat na die aankoms van Jan van Riebeeck in die Kaap eers die Zambezirivier vanuit midde Afrika oorgesteek het) die land gesteel het – Gaan Google dit indien julle dit nie glo nie – gaan lees ook meer hieroor in my kommentaar van “Gesteelde land” wat ek reeds jare gelede in Kwêvoël geplaas het.

In daardie geval het banke gesteelde goedere as sekuriteit aanvaar wat meer as ’n verkoolde tameletjie is.

Banke en oorsese beleggers moet maar weet dat sedert Dingaan, die Koning van die Zoeloe-nasie, daar geen swart politikus is wat hulle aan ’n bindende kontrak verbind nie.

Diegene wat nie die geskiedenis kan onthou nie moet weet dat die Voortrekker, Piet Retief, en sy manne vermoor is net nadat hulle die ooreenkoms met Dingaan gesluit het oor verblyfreg in Natal en dat die “bindende kontrak” in sy knapsak saam met hul lyke, vir die aasvoëls gevoer is. Dingaan het nie eens die moeite gedoen om die kontrak te vernietig nie.

Nieteenstaande my bindende kontrak met die bank is my besluit dat ek nie uit die gebou gaan padgee nie.

Ek het ’n plekkie wat ek met die welwillendheid van my vriende solank inrig. Dit gaan tyd in beslag neem want daar is werk om te doen.

Intussen het ek ’n besige tyd wat voorlê om te verseker dat Kwêvoël steeds in hierdie komende bestaansjaar van 37 jaar in Thabazimbi sy vlerke sprei en die gemeenskap inlig aangaande dit wat belangrik is.

Liefde – Pappa