Suid-Afrika – ’n Waterskaars land – een van 25 Wêreldwyd

Die 2018 Bosveld Besigheid Konferensie wat verlede week deur die Thabazimbi Sakekamer in samewerking met Nedbank aangebied is, het verseker dat sakemanne/vroue weereens sterk daaraan herinner is dat ons hier in Suid-Afrika in ’n waterskaarsland woon, een van 25 lande wat wêreldwyd as sodanig geklassifiseerd is.

Dit is wel so dat sowat 80% van die grond as landbougrond geklassifiseer is maar die werklikheid is dat slegs sowat 3% hiervan geskik is vir volhoubare lanboudoeleindes met genoeg vrugbare grond en water hulpbronne om dit te onderhou.

Daarenteen is die grootste gebruiker van hierdie skaars waterbron die steenkoolgedrewe kragstasies wat 86% uitmaak van ons energiebronne in die verskaffing van elektrisiteit.

Reken verder hierby in dat 50% van die oppervlak water, wat geskik is vir menslike en landboudoeleindes, afkomstig is van die berg-gebiede wat slegs 10% van die totale oppervlak van die land uitmaak.
Oppervlakwater is dus geen opsie vir volgehoue ontwikkeling nie.

Limpopo is gelukkig in die sin dat die sentrale Limpopo reservoirs ’n groot bydra lewer tot die land se ondergrondse reserves. Hierdie water is hoofsaaklik afkomstig van die sponsgebiede soos wat ons in die Waterberge aantref. Hierdie was juis een van die groot punte op die agenda toe daar sowat 30 jaar gelede besluit is om die Marakele Nasionale Park te proklameer.

As mens in ag neem dat Suid-Afrika se sponsgebiede reeds sowat twee-derdes minder is as wat dit aanvanklik was, wys dit net in die mate waarin verstedeliking en die aanwending van sponsgebiede vir landboudoeleindes die land se vermoë om vir sy mense te sorg drasties ingeperk het.

Boere en boerderypraktyke speel dus ’n belangrike rol in die bewaring van natuurlike hulpbronne om te verseker dat kraanwater altyd beskikbaar sal wees.

Water moet ekonomies haalbaar wees vir alle sektore van landbou, nywerheid en huishoudelike gebruik.
Om hierdie rede is die ontsouting van seewater nie ’n haalbare opsie nie aangesien die proses nie ekonomies haalbaar is nie. Niemand sal die waterkan bekostig nie.

Die probleem waarmee Suid-Afrika opgeskeep sit is die feit dat die departement van waterwese en sanitasie juis dié departement is wat swaar gebuk gaan onder korrupsie en wanbesteding van fondse.

Die meesterplan vir die behoud van ons waterhulpbronne moet as hoefdoel hê dat daar van steenkool kragstasies af weg beweeg word. Steenkoolmyne is almal in Suid-Afrika se waterryke gebiede geleë en buiten die vernietiging van hierdie bronne, lei dit ook tot erge besoedeling van die land se riviere.

Huidig beplan die regering om alle waterregte onder een beheerliggaam te sorteer wat glad nie uitvoerbaar is nie aangesien die gebruik van water nie eenvoudig krane oop- en toedraai beteken nie.

Net soos daar nou nuwe wetgewing ten opsigte van grondhervorming deurgeforseer word, sal hiervan niks kom indien waterverdeling nie deel van eiendomsreg uitmaak nie.

Boere veral sal hulself deeglik moet vergewis van hul waterbronne en die ekonomiese aanwending daarvan. Dit sluit in die hernubaarheid van grondwater en presiese monitering van watergebruik vir besproeiing, veekrippe en ander gebruike.

Gemeenskaplike aksie is van groot belang ten opsigte van sanitasie en indringer plante, veral in die opvangsgebiede en almal betrokke in hierdie waterketting sal dringend aandag hieraan moet gee voordat hulle hul reg daarop ontneem word.