Ekonomie: Geen goeie nuus vir die verbruiker

Alhoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie beter presteer sedert die politieke landskap verander het met die verkiesing van ’n nuwe staatspresident, is die ekonomiese beleid onduidelik omdat dit ’n groot element van onsekerheid bevat.

Dit is die woorde waarmee Nicky Weimar, Senior Ekonoom van Nedbank, die mense wat die Thabazimbi Sakekamer Konferensie bygewoon het, begroet het.

Feature Sakekamer Konferensie
Tydens die afgelope Thabazimbi Sakekamer Bosveld Konferensie is op die foto van links: Pieter Heyns (voorsitter van die Thabazimbi Sakekamer), Nicole Dunbar (Nedbank forensiese departement), Nicky Weimar (Senior Ekonoom – Nedbank) en Rudolf Low (Nedbank adviseur – Landbou)

“Die pluspunte van die veranderde politieke landskap is die belofte dat korrupsie vasgevat sal word en die besef dat beslissende stappe geneem moet word om fiskale dissipline te herstel.”

Vir die eerste keer in vier jaar skep die begroting ’n beter vooruitsig nadat die vorige presidensie daarin geslaag het om 60% meer te spandeer as wat die inkomste was.

Aangesien 45% van hierdie geld van die buiteland geleen is en terugbetaal moet word, beteken dat die Reserwebank rente koerse baie sou moes opstoot om die nodige kapitaal te bekom.

Suid-Afrika kan ’n bietjie asemhaal, het sy gesê, nadat die graderings waghond, Moody’s, sy vertroue in die nuwe begroting gewys het deur die gradering dieselfde te hou en daardeur disinvestering voorkom het waar beleggers hulle geld sou onttrek.
Na die aanwysing van Ramaphosa as president het die verbruikersvertroue toegeneem, “soortvan ’n vars asemteug na die Zuma-era.”

Verbruikersvertroue, waarneembaar in die styging of daling in huis- en motorverkope waar verbruikers weer bereid is om geld te spandeer om hul lewensomstandighede te verbeter, het gestyg.

Sy het verder genoem dat inflasie tans redelik onder beheer is, hoofsaaklik omdat voedselinflasie skerp afgeneem het. Die rede hiervoor was die rekord oeste van die vorige jaar.
“Daar moet in gedagte gehou word dat rekordoeste nie jaar na jaar behaal kan word nie, met die gevolg dat voedselinflasie vir die volgende paar jare kan styg.”

Weimar reken dat op die keper beskou is die land in ’n baie beter finansiële posisie en dit kan ekonomiese groei verstewig.

Alhoewel die rand herstel het tydens hierdie proses, is dit nou weer onder druk nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, die gordel stywer trek teenoor invoere na die VSA. Alhoewel hierdie uitvoere na die VSA nie so ’n groot deel van die Amerikaanse invoere uitmaak nie, is dit vir Suid-Afrikaanse uitvoerders van die uiterste belang.

Voeg hierby die drastiese styging in oliepryse wat verbruikersbesteding laat afneem aangesien die addisionele uitgawe aan brandstof nou weer ’n groot deel gaan uitmaak van die gesin se bestedingsvermoë.

Beleggingsvertroue draai maar eintlik om die waarde van die rand as ontluikende mark vir beleggers, daar waar die risiko dalk hoër is maar die opbrengs uitstekend is.

Sy het genoem dat oorsese beleggers heel vertroud was met die staatskaping deur die Guptas tydens die Zuma-era en beleggings is daarvolgens aangepas.

Een groot probleem van die ontluikende markte is die feit dat Trump geweldige groot belastingverligting-konsessies aan die Amerikaanse toegestaan het. Dit stimuleer groei en daarmee saam die verlaging van werkloosheid.
Hierdie faktore maak die VSA ’n baie beter proposisie om geld te belê as die ontluikende markte waar die belegger ’n groter risikofaktor in die gesig staar.

Gesien uit hierdie oogpunt kan sy nie anders as om te voorspel dat die rand oor die volgende twee jaar verder gaan verswak en dat inflasie gaan toeneem nie.

Met ’n groeikoers van minder as 2% is Suid-Afrika se ekonomie kritiek verswak. Sodanig dat selfs toerisme merkbaar afgeneem het.

Huidig is die regeringspandering van sowat 21% van die totale nasionale inkomste (GDP – Gross Domestic Product), hopeloos te hoog.

Kapitaalspandering wat neerkom op gebruikersvertroue van plaaslike beleggers staan tans op 18,7%. Hierdie kapitaalspandering is uiters noodsaaklik vir groei en behoort nader aan 25% van die nasionale inkomste te wees.

Sy het gesê dat die grootste geskenk van die regering se kant sal wees om hul spandering in te kort. Die beskikbare geld moet effektief spandeer word, iets waarop die regering duidelik moet verbeter.
Suid-Afrika se uitvoere op 29,8% en die invoere op 28,4% van die GDP, wys dat die wêreldekonomie ’n beslissende voordeel vir Suid-Afrika inhou.

Die toename in vraag na kommoditeite, hoofsaaklik van minerale deur mynbou, kan Suid-Afrika se posisie baie verbeter. Steeds is daar die Trump-beleid om die grense vir invoere te stuit asook die beperking op goedkoop arbeid wat groei van kommoditeite in Suid-Afrika kan strem.

Weimar reken dat hierdie beleid van Trump op die ou einde nie veel voordeel vir Amerika sal inhou nie as gevolg van stygende inflasie. Die stygende salarisse ten opsigte van arbeid asook die tekort aan sekere vaardighede waarin net die goedkoper arbeid vanaf Mexico en ander lande kan voorsien, gaan uiteindelik sy tol eis op die Amerikaanse ekonomie.

“Suid-Afrika se probleem is dat hy eers ’n arbeidsberaad hou, waar oor minimum salarisse met vakbonde ooreengekom word voordat hulle ’n beleggingsberaad hou om moontlike beleggers te lok. Minimum salarisse en onbeheersde stakings is van die eerste dinge wat vreemde beleggers afskrik.”

“Suid-Afrika se beleggingsbepalings laat geen ruimte om beleggers te lok nie. Die arbeidsmag is te duur vir wat geproduseer word en die voortdurende stakings wys op onstabiliteit in die werkerskorps. Nou kom die regering met verdere beperkings op beleggers met die onteiening sonder vergoeding beleid wat hulle nastreef.”

Armoede, het sy gesê, kan nie verlig word terwyl daar ’n atmosfeer van disinvestering, aangemoedig deur die tekort aan vaardighede, heers nie.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Eskom:-
“Ruk hierdie staatskorporasie reg deur heel bo by die Hoof Uitvoerende Beampte te begin en reduseer die arbeidsmag. Ongelukkig is dit nie die uitgangspunt van Eskom nie aangesien vakbonde hierteen kapsie gaan maak. Vir hulle is die enigste opsie om tariewe te verhoog om hulle uit hul fiskale gemors te kry.”

Weimar het daarop gewys dat gedurende hierdie jaar voor die algemene verkiesing, politici voor die vakbonde en hul eise gaan swig. Investering gaan nie groei nie.

So ver dit onteiening sonder kompensasie aan betref het sy daarop gewys dat R200 miljard genoeg gaan wees om al die bestaande grondeise af te handel.

“Gaan leen die geld en kry dit agter die rug. Die gewillige verkoper en die gewillige koper sal kry wat hulle verlang. Almal gaan baat hierby vind.”

Indien die staat voortgaan met sy onteiening van eiendom sonder vergoeding, kom sowat R1,3 triljoen se verbande wat deur banke afgeskryf moet word in gedrang. Die globale effek wat dit gaan hê is dat gemoedere vir konfrontasie opgejaag gaan word en al die banke in Suid-Afrika gaan bankrot speel.

Ter afsluiting het sy genoem dat kleinsakemanne ongelukkig deur wetgewing doodgedruk word voordat hulle behoorlik op dreef kan kom. Besighede moet hulle daarop voorberei dat die ekonomiese omgewing nie in die komende jaar gaan verbeter nie.

“Diktatorskap beteken die individu is niks. Vryheid is beslis beter as hierdie opsie van onderdrukking. Aangesien jou belegging op investering eers na sowat tien jaar of meer realiseer, gaan niemand in hierdie land investeer solank daar nie ’n waarborg is dat hy ten minste sy geld gaan terugkry nie.”