Suksesvolle opvolgsessie met Thabazimbi Toerisme Indaba

Die opvolgsessie van die Thabazimbi Toerisme Indaba, ’n gesamentlike aksie van Marakele Nasionale Park, die Thabazimbi Munisipaliteit asook die boerdery- en die myngemeenskap, is Vrydag 18 Mei by die opleidingsfasiliteit van Marakele Nasionale Park aangebied.

Marakele Indanba Groep MM Jacques Blaauw
Sprekers tydens die Toerisme Indaba wat Vrydag 18 Mei in Marakele gehou is. Van links: Die munisipale bestuurder van Thabazimbi Munisipaliteit, TG Ramagaga, Lerato Peu (Thabazimbi Munisipaliteit), Jacques Blaauw (aanbieder van die SWOT-analise) en die programleier, Emmanuel Michael.

Dit volg op die Toerisme Indaba wat gedurende Oktober verlede jaar gehou is, waartydens talle rolspelers in die toeristebedryf uitgenooi is om aan die aanvanklike SWOT (Strengt – Weaknesses – Opportunities – Threads) analise deel te neem in ’n poging om die verskillende komponente vervat in die SWOT-analise te definieer.

Reeds gedurende 2006 het belangegroepe by Komma Nader byeengekom as deel van die Thabazimbi Munisipaliteit se poging om die Geïntegreerde Ontwikkelings-Plan (IDP – Integrated Development Plan) op te stel.

Die GOP is daarop ingestel om openbare hulpbronne op die bes moontlike en effektiewe manier te identifiseer om ’n raamwerk te skep vir die gemeenskap, plaaslike ekonomie en om omgewings-volhoubare ontwikkeling op plaaslike gebied te verseker.

Hieruit was dit duidelik dat mynbou nie volhoubaar is nie en dat daar na ander bronne gekyk moet word om volhoubare ontwikkeling te verseker.

Toerisme, waarby sektore van mynbou en landbou betrek kan word, is as die bes volhoubare ontwikkeling in die GOP geïdentifiseer. Positiewe punte hier was Marakele Nasionale Park, Thaba Tholo en ander natuurbewaringsgebiede wat binne Thabazimbi Munisipale gebied geleë is. Hieronder is die Ben Alberts en Madeleine Robinson Natuurreservate wat beide gekoppel is aan mynhuise, Atherstone Nature Reserve en Madikwe Natuurreservaat.

Hierdie is alles gebiede wat onmiddellik ontginbaar is maar daar is besef dat bemarking op plaaslike- en internasionale-vlak noodsaaklik is om die Thabazimbi distrik as ’n toeriste bestemming te vestig.

Destyds was kommunikasie ’n groot probleem, so-ook toegangroetes en wegwysers. Die gemeenskap was ook nie ingestel op handgemaakte produkte (Art & Craft) nie en sou dit verder ontwikkel moet word om dit aan te moedig en lewensvatbaar te maak.

Thabazimbi het reeds naam gemaak as ’n bestemming vir buitelandse jagters. Met vleisverwerkings- en ontbossing-fasiliteite, kon hierdie mark nog verder uitgebrei word en daarmee saam die skepping van etlike werkgeleenthede vir die plaaslike bevolking.

Die noodsaaklikheid van ’n Toerisme-Organisasie en -Inligtingsentrum was toe reeds uitgelig.

Die Wildsfees, wat toe nog sterk gestaan het, het ’n groot rol gespeel in die bemarking van Thabazimbi as Toerisme bestemming met sy nabyheid aan Gauteng asook blootstelling aan internasionale jagters wat hier gejag het. Hierdie fees – die eerste dorpsfees van sy soort in die land – wat sedertdien ten gronde gegaan het, het ’n finansiële inspuiting van etlike miljoen (2-syfer) rand in die Thabazimbi ekonomie gestort.

Dit wat in die GOP vervat is, sover dit toerisme aan betref, het ook duidelik na vore getree met die SWOT- analise wat tydens die Toerisme Indaba geïdentifiseer is.

Gedurende die tydperk sedert die wêreldwye depressie van 2011 het die mynbousektor vinniger as wat verwag is, sy donker kant gewys en is Thabazimbi se ekonomie erge skade aangerig. Gedurende het yster en platinum ’n rowwe tyd op die wêreldmarkte deurgegaan gevolg met die langdurige mynstakings asook die sluiting van Kumba se Thabazimbi Ysterertmyn.

Alhoewel ruim pakkette aangebied is en baie werkers in die posisie geplaas is om hul huise te koop, was baie van hulle binne 10 – 15 jaar vanaf hulle aftrede ouderdom.

Die eiendomsmark in Thabazimbi het in duie gestort en is baie mense in die posisie geplaas dat hulle steeds moet werk om te oorleef. Die probleem was dat hulle verbande op hul eiendom gehad het en nie kon verskuif na ’n ander dorp waar daar miskien werkgeleenthede was, of dat hulle by die kinders en familie kon intrek nie. Hulle kon nie plaaslik aanbly nie aangesien hulle geen inkomste gehad het om die verbandkoste asook die munisipale heffings op die dienste en eiendom te verhaal nie.

Buiten die myngeboue/kantore/werkswinkels wat basies leegstaan, was baie ander besighede in die dorp weens die swak ekonomie nie meer lewensvatbaar nie.

In een van die aanbiedinge tydens die afgelope Toerisme Indaba, is ’n voorlegging deur die Munisipaliteit gedoen waar die moontlike aanwending van hierdie leë gebou uitgelig is vir die skepping van beleggingsmoontlikhede.

Die geboue wat tydens die Indaba voorgehou is, het ingesluit die Thabazimbi Bioskoopsaal, wat steeds as ’n mynbate bedryf en uitverhuur word en die gebou wat Kwêvoël, Moredou Drukkers, Dewside Brouwery en Dewside Restaurant en Kroeg gehuisves het. Laasgenoemde gebou is steeds in die mark.

Dat daar baie gedoen sal moet word om Thabazimbi as Toeriste Bestemming te bemark is duidelik en dit is juis hier waar investering van buite noodsaaklik is.

Die Thabazimbi distrik het oorgenoeg gastehuise om nog meer toeriste te huisves. Een manier om meer gaste hierheen te lok is om die nabyheid van ander toeriste-aantreklikhede soos Bela-Bela se Aventura vakansieoord, Marakele Nasionale Park, Sun City en die Pilanesberg Natuurreservaat as deel van hul bemarking in te sluit. Ongelukkig is dit in privaat hande en tans bestaan daar nie ’n manier dat enige plaaslike toerisme-organisasie of die munisipaliteit die kapitaal vir die bemarking hiervan gaan voorsien nie.

In sy kommentaar op die SWOT-analise het Jacques Blaauw, aanbieder van die analise, genoem dat die analise daartoe gelei het dat ’n voorlopige Toerisme strategie voorlegging gedoen kan word en daarmee saam ’n Handelsmerk Posisionering (Brand Positioning) daargestel kon word.

Soos genoem is baie van die besluite gekoppel aan die uiteindelike GOP wat gedurende 2011 gefinaliseer is.
’n Toerisme inligtingsentrum is steeds van kardinale belang en gemeenskappe word aangemoedig om byeenkomste te hou waartydens die bevordering van toerisme bespreek word.

Bereik die besoekers wat net deurry deur gebruikersvriendelike kommunikasie soos Wifi in restaurante en winkelsentrums.

Hoe meer toeriste hierheen getrek word, hoe meer geld word in die gemeenskap gespandeer.
Blaauw het verder genoem dat vir elke twaalf toeriste wat hierheen gelok word, ten minste een werkgeleentheid geskep word.

Netso is daardie oorsese en plaaslike jagters wat reeds hierheen getrek word. Ongelukkig eindig dit daar en gaan koop hulle hul aandenkings by plekke Bela-Bela-Bela, Hartbeespoortdam of ander stalletjies buite Thabazimbi. Meer plaaslike markte sal ’n bonus wees.

Die analise het ook uitgewys dat daar meer aandag aan dorpsfeeste gegee moet word as ’n noodsaaklikheid om toeriste te lok. Die Wildsfees het weggeval maar daar bestaan ’n lewensvatbare model om iets soortgelyks weereens te vestig.

Voeg hierby bestaande fasiliteite wat net verder ontwikkel moet word. Hier kan mens noem van Thabazimbi se ideale weer wat dit ideaal maak vir skermsweef. Daar is steeds bestaande bergfietspaaie – lok die ondersteuners van hierdie sport en bemark so ok die gastehuis of lodge.

Landbou of Agri toerisme is iets wat reeds bestaan en baie moontlikhede bied aangesien die fasiliteite reeds daar is. Tydens die toeris se besoek aan jou plaas, kry hom betrokke by die aktiwiteite op die plaas. Dit kan ook ’n besoek aan ’n tradisionele kombuis insluit waar koring gestamp word en mieliepap in ’n swart pop op die oop vuurgemaak word. Veral oorsese toeriste is gaande hieroor.

Moenie die plaaslike (biltong) jagter afskeep nie. Hierdie is ’n bron wat jy nie noodwendig net gedurende die jagseisoen hoef te benut nie.

As hy dit geniet, bring hy met sy volgende besoek, wat nie noodwendig in die jagseisoen is nie, sy gesin saam om die heerlike natuur op ’n bosveldplaas te geniet.

Eienaars van plase en gastehuise moet mekaar nie as kompe-tisie sien nie, maar moet eerder saamwerk vir koöp-tisie.
Thabazimbi beskik reeds oor baie van hierdie fasiliteite maar om meer toeriste te lok sal meer insette gelewer moet word om te verseker dat toeriste die volle bosveldervaring kan beleef.

Verskeie opsies is aangebied waardeur Thabazimbi wel as ’n toerisme bestemming uitgebou kan word.

Al is die toerisme organisasie daar om riglyne te bied en al kan die munisipaliteit die ondersteunende struktuur bied, kan niks hiervan realiseer sonder die nodige finansiering en investering nie.

Na afloop van die verrigtinge by Marakele, is belangstellendes vergesel na die Kultuur-dorpie net buite Thabazimbi by die afdraai na Dwaalboom. Die dorpie was een van die laaste pogings van Kumba om aan inwoners van Thabazimbi iets na te laat ter bevordering van toerisme in die streek.

Geen terugvoering is ontvang van hoe om die perseel tot sy reg te laat kom nie en hoe dit dalk as ’n toerisme inligtingsentrum aangewend kan word.