‘n Dorp wat draai of ‘n dorp in sy maai?

Die onlangse uitsending op Kyknet wat ons liewe dorpie as gevallestudie gehad het, het soos verwag, weereens baie emosie ontlok. Enige kommunikasiekundige sal vir jou sê, as daar emosie is, bly weg van woorde op papier, en praat gesig-tot-gesig, want woorde op papier kan nie jou bedoelde emosie oordra nie.

Vir ‘n persoon wat opgewonde is, maak die geskrewe woorde dalk meer opgewonde, maar vir iemand wat frustreerd is, maak dit dalk net meer frustreerd, want die een wat lees plaas sy emosie tussen die woorde. Met dìe risiko duidelik in gedagte, gaan ek tog poog om woorde op skrif te deel, met die hoop dat ‘n gesprek wel iewers ook gesig-tot-gesig kan plaasvind.

Kom ons begin by die begin – ons liewe dorpie (en my definisie sluit Northam, Rooiberg, Leeupoort ens. in). Op sy knieë, gebuk onder jarelange politiese en administratiewe wanbestuur, sy wonde duidelik sigbaar met kragonderbrekings, wateronderbrekings, “pot holes”, vullis die wêreld vol, werkloosheid, sosiale probleme, en so kan die lysie aangaan… ‘n Dorp in ‘n diep, amper donker gat!

En wie sit onder in daardie amper donker gat… ons dorpie(s) se inwoners. Dit is dus heeltemal te verstane dat daar frustrasie, angs, moedeloosheid, weerloosheid, woede en soveel ander emosies in ons dorpie se inwoners woel. Nog meer so as jy een van die inwoners is wat ons dorpie geken het toe dit ‘n juweel in die Bosveld was, en nou met teleurstelling om jou kyk.

In enige boek moeilik, bitter moeilike emosies om deur te werk, en emosies wat elkeen op sy eie spoed en gemoed besig is om te probeer verwerk. So, weet dat hierdie nie nog ‘n poging is om jou emosies te probeer kritiseer nie… ek voel net soos jy!

Ek en my familie sit saam in die amper donker gat, maar deur genade het jare se gestamp, stoot, en beitel ons geleer dat die keuse voor ONS EIE DEUR lê, en dat ons die enigstes is wat kan besluit wat ONS KEUSE is. Vir ons het die diep, amper donker gat ons by twee keuses uitgebring… bly ons of ry ons, en as ons bly, wat dan, gaan ons kla of gaan ons doen?

Jy sien, my naïwe teorie is as volg, en ek deel dit nie om jou te probeer ompraat nie, maar om jou ook aan die dink te kry. As jy weet dit is ‘n amper donker gat, hoe klim ons daaruit? Die munisipale koffers is meer as leeg, die wonde in party plekke groter as een jaar se behandeling, en die algehele ekonomiese toestande is swaar, so hierdie gat is groot en diep.

So, wat doen ons, wel, ONS GOOI KLIPPE! Nie om iemand raak te gooi nie, maar om die diep, amper donker gat weer vol te probeer kry. Die klippe wat ons probeer gooi is “DOEN” klippe. Die goeie nuus uit ons ervaring is, hoe meer “doen” klippe ons gooi, hoe meer ontmoet ons mense wat ook “doen” klippe gooi of wil gooi.

Ja, vir ons wat onder in die gat is voel dit of die klippe partykeer op ons koppe val, maar solank dit ‘n “doen” klip is, maak dit die gat voller as wat die gat was.

Die Kyknet “doen” klip het duidelik op ‘n paar koppe geval, maar glo my, hoe nikseggend die “doen” klip mag lyk, dit was ‘n “doen” klip wat alreeds ander “doen” klippe aan die rol het. Die dorp kon die produksie weier, en ons kon ook nie al ons probleme, soos die elektrisiteitsprobleem, as deel van die program kry nie – wat hoe neem mens nou ‘n kragonderbreking met ‘n kamera af?

Dus, was die besluit dat hierdie Kyknet “doen” klippie wel sekere dinge kan aanspreek en “doen” beter is as niks, maar dat dit wel net nog ‘n ‘klein’ poging in die groter poging is om ons diep, amper donker gat toe te kry.

Northam en ander dorpies in ons gebied was ook nie vergete nie, glo my Kyknet weet ook van Northam se probleme, maar dit was die Kyknet span se keuse watter “dorpies” hulle wou besoek op grond van kriteria wat hulle saamgestel het, nie die dorp nie.

Een persoon of gesin of groep se “doen” klippe sal nooit ons dorpie se diep gat kan vol kry nie, maar wat ek glo is dat hoe meer mense “doen” klippe gooi, hoe vinniger die diep gat weer vol kan word. Kom ek deel ‘n paar voorbeelde (en daar is baie meer) van “doen” klippe wat ek die diep, amper donker gat sien inkom:

Ons het “doen” klippe van gebed vir ons dorp. ‘n “War Room”, kerkgemeenskappe – swart, wit enige kleur – wat elke dag bid en iets vir sy medemens probeer doen.

Ons het mense wat vullis “doen” klippe gooi. Hulle ry met tye selfs ander se vullis weg waarvoor hulle nie eers betaal word nie.

Ons het myne wat groot hoeveelhede “doen” klippe gooi en ander wat mooi beplan dat hulle die diep, amper donker gat raak gooi sodat ons vinniger bo kan uitkom. So byvoorbeeld is daar ‘n vullisverwyderingmeesterplan reeds opgetrek en naby aan finalisering wat nie net die vullis probleem gaan aanspreek nie, maar werk gaan skep. Elke dag word “doen” klippe na hierdie poging gegooi.

Die betreklik nuwe munisipale administrasie (die werkers, nie die politici nie) gooi ook baie meer “doen” klippe as voorheen, en hulle weet ook hoe diep hierdie gat is en hoe baie mense in hulle eie administrasie nie genoeg “doen” klippe gooi nie, maar hier is ‘n paar dinge wat al in die diep, amper donker gat ingegooi is… ‘n funksionerende rioolwerke – wanneer laas het jy die stank geruik as jy die dorp inry?

‘n Opgedateerde geintegreerde ontwikkelingsplan wat verskeie projekte vir Northam oogmerk; bywoning van kritieke distrik- en provinsiale beplanningsvergaderings en baie meer, maar met die gat wat so diep is sien en voel ons nie nou al die verskil nie, en ja, BAIE meer “doen” klippe moet deur hulle oor jare gegooi word.

Daar is ‘n groep mense wat besig is om toerisme “doen” klippe te gooi, want dit kan werksgeleentheid skep, befondsing vir ons dorp bekom en nog baie meer. Daarom is die pad na Marakele Nasionale Park ook belangrik.
Dalk nie in vergelyking met ons huidige probleme in die diep, amper donker gat nie, maar wel oor die medium-termyn om toeriste vinniger by ons dorp uit te bring en “geld-doen” klippe saam te bring wat uiteindelik die hele munisipale area kan bevoordeel.

Daar is ‘n groep mense wat besig is om “doen” klippe te gooi wat meer as 700 werksgeleenthede teen die einde van die jaar sal skep… en die getal word met werklike projekte gedryf.

‘n Privaat-hospitaal groep het onlangs ‘n groot “doen” klip in ons gat gegooi, en dit kan help om van ons “wonde” te behandel. Net so het ‘n myngroep honderde huise in Northam begin bou om meer inwoners te huisves. Investering van buite die dorp is ‘n belangrike teken of ons vorentoe beweeg, of nie!

Nog meer voorbeelde van “doen” klippe is aan die gang, en die “doen” klipgooiers sien al bietjie meer lig in die diep, amper donker gat, maar hulle sien ook dat die gat diep is en elke “doen” van elke inwoner gaan benodig oor te minste vyf jaar en meer.

Watter “doen” klippe kan jy oorweeg om te gooi?

Dink wat ons oor ons dorpies sê en of dit “doen” of “kla” klippe gooi. Ons het rede om te “kla”, maar niemand bring “geld-doen” klippe na ‘n plek wat sy eie gat net dieper en dieper grou met “kla” klippe nie.

As daar publieke byeenkomste geadverteer word, woon dit by en kom hoor watter “doen” klippe moet gehelp gooi word of kom maak voorstelle watter “doen” klippe nodig is, en sê ook sommer watter “doen” klip jy gaan help gooi.

Hou jou eie, en vra jou buurman om sy eie erf skoon en netjies te hou en rapporteer die wat vullis onwettig strooi.

As dit in jou geloofsraamwerk is, hou aan bid. Die wat glo sal weet ons is aan net een “Bestuurder” verantwoordelik, maar dat Hy vra dat ons die leierskap oor ons aangestel sal respekteer, bystaan en ondersteun.

Weereens, kan ek nog baie voorbeelde met jou deel…

So, is ons ‘n dorp wat draai of ‘n dorp in sy maai… bly ons of ry ons, en as ons bly, wat dan, gaan ons kla of gaan ons doen? Hoop om meer van die “doen” klipgooiers te ontmoet.

Ingestuur deur Jacques Blaauw, ‘n Thabazimbi “doen” klipgooier