Onteiening sonder vergoeding – Die begin van die einde van buitelandse beleggings

Die onteiening sonder vergoeding van BMW se motorbou-aanleg insluitende enige intellektuele eiendomsreg, die onteiening van Disney se filmregte in Suid-Afrika in weerwil van die Berne Konvensie en die onteiening van genoteerde aandele van multinasionale maatskappye, kom in gedrang indien die wet op onteiening sonder vergoeding soos deur die ANC en veral die EFF deur die parlement vrot gedruk word.

Volgens ‘n mediavrystelling van die VF Plus het die party vasgestel dat enige internasionale belegging in Suid-Afrika blootgestel is aan onteiening sonder vergoeding. Die ooglopende uitwerking hiervan is dat beleggers eerder hulle beleggings uit die land sal onttrek terwyl die vervalde handelsooreenkoms steeds tydelike regskrag het.

Die VF Plus sê dat Suid-Afrika nog net dertien bilaterale handelsooreenkomste wat beskerming vir beleggers bied in geval van onteiening in plek het, en dit gaan nie hernu word wanneer dit verval nie. Daar bestaan ook 9 vervalde handelsooreenkomste wat steeds vir ‘n bepaalde tyd in werking is nadat dit verval het.

Dit blyk uit geskrewe vrae wat gerig is aan die minister van handel en nywerheid, en antwoorde wat aan die VF Plus verstrek is.

Ingevolge die dertien bestaande en nege vervalde handelsooreenkomste moet lande en hulle beleggers van wie in “nasionale belang” onteien word, streng volgens markwaarde vergoed word.  Dit sluit lande in soos Duitsland, België, Nederland, Italië, Suid-Korea, Rusland, China, Kuba en selfs Zimbabwe (laasgenoemde sedert 2010).

In die plek van die ooreenkomste het Suid-Afrika egter die Wet op die Bevordering en Beskerming van Beleggers in plek geplaas wat, anders as wat die benaming aandui, feitlik geen beskerming aan beleggers bied indien hul belange sonder vergoeding onteien sou word nie. Die wet kom outomaties in werking sodra ‘n betrokke handelsooreenkoms se operasionele tydperk verstryk het.

Van groot belang is artikel 10 van die wet wat bepaal dat internasionale beleggers die reg tot eiendomsreg soos vervat in terme van artikel 25 van die grondwet het. Die implikasie is dat enige wysiging van artikel 25 van die grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik ook dus van toepassing sal wees op internasionale beleggers se bates.

Die wet maak verder geensins voorsiening vir internasionale arbitrasie nie – anders as die handelsverdrae – en enige dispute sal alleenlik deur Suid-Afrikaanse howe bereg word. Suid-Afrika se ander handelsvennote moet dus nou hier belê met die wete dat hul beleggings verbeur kan word sonder enige internasionale regsbeskerming of -ingryping. Beleggers is dus uitgelewer aan enige interpretasie of wysigings van artikel 25 van die grondwet.

Die verdrae wat reeds verval het, bied ‘n verdere werking van gewoonlik tussen 10 en 20 jaar nadat dit verval het ter beskerming van beleggings. Dit spreek egter vanself dat beleggers nie waarde aan so ʼn ooreenkoms sal heg indien ʼn land aandui dat hy onteiening sonder vergoeding as wettig beskou nie.

Ironies is internasionale beleggers alreeds blootgestel aan ontneming sonder vergoeding – in teenstelling met onteiening – soos reeds neergelê in ʼn toetssaak – die AgriSA mineralebronne-saak – waar beslis is dat die staat eiendomsreg kan ontneem deur homself as kurator daarvan aan te wys.

Dit is bekend dat die huidige wet nie met ope arms deur die internasionale beleggersgemeenskap verwelkom is nie en die VF Plus was hewig gekant teen die inwerkingstelling daarvan juis omdat dit beleggers sal verdryf.

Die Amerikaanse Handelskamer het dit toe reeds (2015) op rekord geplaas dat tot R1.35 triljoen se beleggings in die balans hang weens die moontlike uitwerking van die wet.

Voorleggings van die Amerikaanse Nywerheidskamer (NPC)- en die Europese Kamer van Handel en Nywerheid in Suid-Afrika  (EUCCISA) aan die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid het dit duidelik gemaak dat die groot onsekerheid rondom Suid-Afrika se ekonomiese beleid die hoofrede vir die wantroue is.

Dit was voor die skok van onteiening sonder vergoeding en die ANC sal beleggers nou nog minder oorreed om plaaslike te belê. Die regering het geen ag geslaan op die waarskuwings van 2015 nie en het tewens uit sy pad gegaan om beleggers verder af te skrik.

Indien die ANC die privaatlede wetsontwerp verwerp, sal dit ‘n duidelike boodskap aan die wereld stuur dat hulle beleggings nie veilig is nie. Dit kan lei tot disinvestering en selfs sanksies teen die ANC-regering.

 

Ses mynwerkers dood na bus aan die brand gesteek is

Maroela Media berig dat vyf mense in hegtenis geneem is nadat ’n bus vol mynwerkers Maandagaand by die Driekop-busstasie buite Burgersfort naby Lydenburg waar mynwerkers opgelaai is vir die nagskof aan die brand gesteek is.

Die bus vol mynwerkers is met opset aan die brand gesteek nadat die bus omstreeks 20:00 by die stasie stilgehou het om die werkers op te laai.

4 April bus-brand-1-320x240Twee verdagtes het vlambare vloeistof oor die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uit die bus gespring.

Ses werkers het in die voorval doodgebrand.

Die polisiewoordvoerder, Brigadier Motlafela Mojapelo het aan Maroela Media gesê dat ’n spesiale taakspan het twee dae en nagte deurgewerk om die “gruwel voorval” te ondersoek. Dit het daartoe gelei dat vyf verdagtes op verskillende plekke in hegtenis geneem is.

Die vyfe verdagtes, tussen 1 en 30 jaar oud, sou gister, Donderdag, in die Mecklenburg Landdroshof op ses aanklagte van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging verskyn.

Die hele bus met sowat 50 mense binne-in het onmiddellik vlam gevat. Van die passasiers kon daarin slaag om deur die vensters te ontsnap. Altesaam 28 mense is met brandwonde na die hospitaal gehaas.

Volgens Majapelo kan nog inhegtenisnemings moontlik volg.