Wet op beskerming van vroue en kinders as dekmantel om internet-inhoud te beheer

“Die Film- en Publikasieraad-wysigingswetsontwerp is nie ʼn opregte poging om vrouens en kinders te beskerm nie, maar eerder ʼn poging om sensuur terug te bring onder die dekmantel van beskerming, en om beheer uit te oefen oor die inhoud van die internet en moet daarom verwerp word.” aldus Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder: Kommunikasie.

In die mediaverklaring sê Alberts verder dat hierdie houding van beheer is simptomaties van die ANC-regering se ingesteldheid van sentrale beheer oor elke aspek van die lewe.

Hy betwyfel nie dat skadelike inhoud weggehou moet word van kinders en die vervaardiging en verspreiding daarvan moet gestop word. Daar is egter meer sinvolle wyses om dit te doen, soos om die polisie se kinderbeskermingseenheid te laat versterk om die vervaardiging, verspreiding en die besit van kinderpornografie en ander onwettige inhoud in die land stop te sit.

Die VF Plus stem saam dat vroue en kinders in alle sfere van die samelewing beskerm moet word, en dit is belangrik dat nuwe tegnologiese platforms in lyn gebring moet word met hierdie doelwit.

Die vraag is egter of die ANC-regering met sy bedenklike rekord van menseregte met enige vorm van regulering vertrou kan word. Die vraag kan net beantwoord word deur die geskiedenis en fynskrif van die wetsontwerp te ondersoek. Daar is talle probleme, maar twee rooi ligte flikker.

Die eerste is die wetsontwerp se bepalings wat voorafgoedkeuring van internet-inhoud vereis voordat dit aanlyn geplaas kan word. Nie net is hierdie meganisme duidelik ‘n ongrondwetlike vorm van sensuur nie, maar sy omvang is groot en sluit feitlik enige aanlyn-inhoud in.

Dit is duidelik ongrondwetlik en is simptomaties van die ANC-regering se minagting van die Grondwet wat slegs verander wanneer die opposisie en die publiek dit teenstaan. Die ANC toets voortdurend die oordeel van beide die publiek en die Grondwet.

Nog ʼn probleem is dat sensors oënskynlik nie daarvan bewus is dat internet-inhoud nie werklik gereguleer kan word nie.

Reëls kan gemaak word vir inhoud wat op Suid-Afrikaanse bedieners gelaai en versprei word, maar niks kan gedoen word aan inhoud van buite die landsgrense nie buiten om dit aan buitelandse owerhede te rapporteer. Selfs dan is daar geen sekerheid of hulle sal optree nie.

Dit is dus jammer dat ʼn mens skepties moet wees oor die ware bedoelings van die regering ten opsigte van hierdie wetsontwerp. Die belange van vroue en kinders was waarskynlik nie voorop gestel toe hierdie meganismes van sensuur en beheer geskep is nie.