Die Kwêvoël

Sondagkommentaar – Waterkrisis in Wes-Kaap: Voorloper van erger dinge in die binneland

Die waterkrisis wat die Wes-Kaap tans beleef is maar ’n voorloper wat in die toekoms verwag kan word en is ’n dringende aanmaning tot die regering om nou reeds stappe te neem.

Gedurende die sestigerjare het ons dieselfde probleem in die gesig gestaar toe die Hartbeespoortdam ’n groen poeletjie daar ver onder was, met privaat boot “lanseringspaaie” wat sowat 100 meter en verder vanaf die boothuise na die water daar onder gestrek het.

Die Vaaldam is met oesbespuitings-vliegtuie met vloeistof gespuit om die verdamping van water vanaf die oppervlak te beperk, en die reën het vir meer as vyf jaar weggebly.

Plaaslik is hier in die omgewing steeds yslike hardekoolbome wat gevrek het tydens die 1960’s droogte. Die meeste is seker al opgesaag en as braaihout verkoop. Vra maar vir die ou inwoners, hulle sal onthou.

Op skole is debatte gevoer of dit eties was of nie om die wolke met silwerverbinding met behulp van missiele wat op donderwolke afgevuur word te besproei om kondensasie te bewerkstellig dat dit kan reën. Die ander het gaan bid vir reën. Nie een van die metodes het gewerk nie. In die eerste geval het dit gewoonlik so hard gereën dat die droë aarde nog meer gekompakteer is en die water het eenvoudig weggevloei sonder om die grond diep te benat. Die ander manier het ook nie vir die eerste vyf jaar gewerk nie.

Dieselfde metode van wolke melk word steeds in die laeveld by Nelspruit gebruik om wolke wat dalk hael kan vorm en vrugte oeste kan beskadig, vroeër te laat uitsak.

Maar op die keper beskou: Suid-Afrika en Israel geniet byna dieselfde jaarlikse neerslag. Suid-Afrika met sy jaarlikse gemiddelde neerslag van 495mm teenoor die Israel gemiddelde van 435mm per jaar.

Israel word gereken as ’n woestynland, terwyl Suid-Afrika deur die ANC as die land van melk en heuning, die kosmandjie van Afrika gekroon is, die land wat deur die “wit mense by die swart bevolking van Afrika afgeneem is en wat hulle tot slawerny gedwing het”.

Suid-Afrika sit met ’n bevolking waarvan ten minste 25% bo-uit Afrika afkomstig is en oor die land se grense gestroom het toe die ANC bewind oorgeneem het met ’n ope uitnodiging aan Afrika om deel van die land te word, al het jy net ’n adres gehad van iemand wat in Soweto woon en aan jou gegee is deur iemand wat iemand ken wat die persoon in Soweto geken het.

Laat ons net ’n bietjie stilstaan by die gemiddelde reënval van sommige van hierdie lande waaruit die mense gestroom het, hoofsaaklik omdat hulle gehoor het dat Suid-Afrika sy mense kan voed in teenstelling met hul lande van herkoms waar die mense knaend honger is.

Zambië se gemiddelde reënval is 1020mm per jaar. Mosambique het ’n gemiddelde reënval van 1032mm per jaar, Tanzanië, wat die sogenaamde vlugtelingsoord van die uitgewekenes was, se gemiddelde reënval is 1072mm – 1, 072 meter!

Met soveel reën kan hulle nie eens sorg dat hulle mense genoeg kos het om te eet nie.

Vir diegene wat nie weet hoe reënval gemeet word nie – ’n kort verduideliking. Dit is die diepte van die water wat versamel word oor ’n homogene gelyk oppervlak. Die area maak nie saak nie solank die oppervlak waterpas is en oor vertikale kante beskik om te keer dat die water nie weg vloei nie en net water versamel wat direk binne die spasie val.

Om die makliker te maak om van 1mm tot 50mm in jou eie reënmeter te kan meet, is moderne reënmeters soos ’n kegel ontwerp en gekalibreer om klein hoeveelhede in ’n afmeetbare nou gedeelte van die kegel aan kan teken en hoër neerslae in die boonste wye gedeelte.

Dink jou dan net in die sutuasie dat indien jy in ’n dam met regop mure en ’n plat bodem staan en die totale jaarlikse gemiddelde 1032mm in een slag oor die gebied sou val, sal die water wat in die dam val tot 1,032 meter daarin opstoot. Dit is oor jou middellyf. In Suid-Afrika waar ons gemiddelde reënval slegs 495mm is, sal jy net kniediep in die water staan.

Die agteruitgang van riool- en water-suiweringsaanlegte by munisipaliteite wat reeds in die laat sestig- vroeë sewentigerjare gereed was om gesuiwerde water direk by die drinkwatervoorraad te voeg, het met die verval in instandhouding daartoe gelei dat rou riool nou ons drinkwaterbronne besoedel.

Weens hierdie besoedeling is die beskikbare hoeveelheid drinkwater aan die toenemende dors bevolking, wat te wyte is aan die onbeheersde bevolkingsontploffing onder die swart mense, sodanig dat die regering die landbousektor wat kos aan die massas moet voorsien, se watertoevoer beperk deur kwotas daarop te plaas. “Die mense kan maar van honger doodgaan, dan kan apartheid weereens lewendig gehou word, maar die reg om jou dors te les word hoër geag as die nood om die mense te voed.”

Plaas dat die mense wat vanaf Midde-Afrika die tog na die suide aangepak het ook maar hul reënkoninginne saamgebring het. Die setlaars in die Kaap het reeds met hul aankoms in die Kaap besef dat hulle dammetjies en leivore moet bou om die fonteinwater van Tafelberg tot hul voordeel aan te wend vir hul wingerde en landerye.

Suid-Afrika sou nie die waternood kon deurstaan het nie as dit nie was dat die vorige regerings besef het dat hierdie ’n waterskaarsland is en reeds net na afloop van die Anglo Boere-oorlog begin het om damme in die binneland te bou.

So is die Hartbeespoortdam gedurende 1935 gebou, omtrent dieselfde tyd dat daar besluit is om die ysterertsmyn op Thabazimbi te begin.

Sedert die oorname van die ANC is daar nie ’n enkele dam verder beplan en gebou nie. Die enigste is miskien die De Hoop dam in Limpopo wat in 2014 voltooi is.
Die voltooiing van die dam is met vier jaar vertraag (2010 tot 2014) weens probleme in die voorsieningsketting, tegniese en toerustingprobleme, onvoldoende omgewingsimpakstudies, verskuiwings van gesinne uit die area, en loonstakings.

Die dam verskaf dan ook water uit die Steelpoort rivier die Burgersfort en Steelpoort gebiede vir die ontginning van ryk mineraalbronne in die oostelike Limpopoprovinsie. Benewens waterverskaffing aan dorpe, nywerhede en gemeenskappe in die Sekhukhune-distrik, waar dienslewering voorheen van swak standaard was.

Aangesien dit die tweede fase was van die Olifantsrivier-waterhulpbronprojek (ORWRDP), die enigste lewensvatbare oplossing vir waterlewering aan die Nebo-plato, waar 800 000 mense woonagtig is, dateer die beplanning hiervan heel moontlik ook uit die tydperk voor die oorname van die ANC. Die eerste fase wat in 2006 voltooi is, het kapasiteitsverbeteringe aan die Flag Boshielo-dam behels.

Die enigste kritiek van die ANC se kant is dat die wit mense nie die damme so groot moes gebou het nie – as die damme kleiner was, was hulle steeds vol.

Steeds wag ons vir damme wat êrens in die laer Krokoilrivier en die Limpopo-opvangsgebied gebou moet word.

Naby Thabazimbi net onderkant die samevloeiing van die Pienaars- en Krokodilriviere is daar ’n uitstekende plek vir so ’n dam en ek is seker daarvan dat na die samevloeiing van die Groot Mariko en Krokodilrivier op sy pad as die Limpoporivier na die Indiese Oseaan, daar wel plekke is wat geskik is vir ’n groot dam.

Sedert die ANC oorname is daar seker reeds vier of vyf oorstromings van hierdie riviere wat grootskaalse skade aan besproeiingsgebiede onderkant die Hartbeespoortdam en veral aan die Mosambiekse kant, waar die rivier uitmond in die Indiese Oseaan, veroorsaak het.

Indien dit verhoed kon word sou dit nie nodig sou wees om die Suid-Afrikaanse lugmaghelikopter vlieëniers en bemanning te ontplooi om die swart inwoners van Mosambiek uit boomtoppe te red nie.

Van die sowat 195 damme wat sedert die laat 1800’s in Suid-Afrika gebou is, is hiervan net sowat agt voltooi sedert die magsoorname van die ANC.

As in ag geneem word dat die besluit om ’n dam te bou en dit te doen nie oornag geskiet nie, kan aanvaar word dat al agt hierdie damme reeds in die tyd van die vorige regime beplan is.

Die beplanning vir die Bergrivierdam by Franschoek, wat in 2007 voltooi is, is reeds in 1989 gedoen. Hierdie dam is dan ook een van die ses damme wat Kaapstad en omliggende dorpe van water voorsien.

Suid-Afrika het nie gletsers en sneeu gepakte berge wat vir standhoudende riviere kan sorg nie en nog minder gereëlde reënval soos die Monsoonreëns in Indië.

Die meeste riviere wat damme voed maak staat op reën wat in die opvangsgebied val. Indien dit nie reën nie, kry die damme nie water nie. Damkapasiteit kan dus nie so groot wees dat dit nooit in ’n honderd jaar vol sal word nie, maar word so beplan dat die vloede getem word om vir ’n eweredige konstante vloei van water regdeur die jaar te sorg.

Suid-Afrika het net ses damme wat oor ’n kapasiteit van 1 miljoen Megaliter en hoër beskik.

Die Gariepdam is verreweg die grootste met ‘n kapasiteit van 5,3404 miljoen Megaliter. Dan volg die Van der Kloofdam met 3,1713 miljoen Megaliter, Sterkfonteindam met 2,6169 miljoen Megaliter, Vaaldam met 2,6034 miljoen Megaliter, Pongolapoortdam met 2,2671 miljoen Megaliter en die Bloemhofdam met 1,2402 miljoen Megaliter. Al hierdie damme het sedert hulle gebou is tydperke van erge droogte deurgaan.

Die totale kapasiteit van die ses damme in die Wes-Kaap wat water aan Kaapstad en die omliggende dorpe voorsien is slegs 0,890980 miljoen Megaliter. Na drie jaar se droogte is dit nou bykans leeg.

Johannesburg en die totale oos- en wesrand is afhanklik van water vanaf die Vaaldam. Hierdie is ’n baie groter gebied as die Wes-Kaap wat, buiten die mynbedrywighede, ook een van die grootste landbou produsente gebiede is. Mielies en ander gewasse word hier verbou asook beesboerderye en melkerye wat water benodig om kos vir die massas te produseer.

Die bolope van die Vaaldam word reeds geteister deur erge besoedeling as gevolg van rou riool van munisipaliteite wie se rioolwerke nie in standgehou is om die vloei van rou riool na die voedingsriviere van die Vaaldam te verhoed nie.

Indien hierdie besoedeling vererger en die dam se water nie geskik raak vir menslike gebruik nie, gaan daar in Johannesburg en aan die Rand groter waternood as in die Wes-Kaap heers.

’n Waternood wat gepaard sal gaan met die uitbreek van cholera en ander vieslike siektes wat veroorsaak word deurdat die mense in hul eie afval begin verrot.

Daar is steeds ’n oplossing, maar slegs indien munisipaliteite begin om hul rioolwerke te laat funksioneer.

Dit is dalk hier waar die myne, inplaas daarvan om miljoene rande te spandeer op die rehabilitasie van die myne, eerder ’n kompromie met plaaslike regerings en die regering self aangaan om al hierdie geld en moeite in die daarstelling van funksionele rioolwerke, gekoppel aan watersuiweringsaanlegte, te spandeer.

Wat is die nut van ’n mooi landskap as dit deur rou riool bedek word?