Joshua na die Reën soos om van te droom

KunsteGrot het gisteraand, Saterdag 10 Februarie, daarin geslaag om een van die beste Afrikaanse kunstenaars te laat skitter op die plaaslike verhoog.

Dit was Joshua na die Reën wat met sy tweede besoek aan Thabazimbi die gehoor weereens in ekstase gehad het.

Saam met hom op die verhoog was sy twee kitaarspelers Heinrich en Gerhard.

Verblydend was die aantal jong mense wat kom luister het en by wie hy reeds ’n duidelike ondersteuningsbasis gevind het.

Buiten sy eie liedjies het sy vertolking van Don McLean se Vincent (Starry Night) en Coenie de Villiers se Voshaarnooi (Ek is verlief op die kind) groot byval gevind.

Sy jare se studie aan die TUT het hom ook duidelik as meester met jazz in sy bloed gelaat.

Liedjies op sy nuutste CD, Die Wêreld Binne My, met “Heuwels en Berge” en “Drome”, was duidelike treffers by jonk en oud. Hiermee bewys hy hom ook as een van die beste Afrikaanse liriekskrywers.

Hy sê dat hierdie nuwe album lank reeds in sy kop draai; dat daar in elke persoon ’n wêreld is wat niemand ooit sal verstaan nie.

10 Feb Joshua Vollie
Jacques saam met Vollie Volschenk, Rita se groot steunpilaar met die KunsteGrot.

“Ons doel is om mekaar stadig maar seker toe te laat in ons wêreld, sodat ons op ’n plek kan kom waar ons ’n waardevolle pad met mekaar kan stap. Ek is geïnspireer deur beelde uit die natuur, mense se stories en die dag toe ek besef het dat die moeilike dinge in die lewe soms die grootste geskenk is – as jy besluit om dit te koester en iets hieruit te leer – andersins word jy jou grootste vyand en sal dit jou om elke hoek en draai inwag.”

Hy het vertel van hoe sy pa tydens gesinsvakansies nooit oornagplek op pad Kaap toe bespreek het nie. Teen skemer het sy pa gewoonlik begin uitkyk na ’n karoo-plaas waar hul dalk kon oornag, ingery en die boer gevra of hulle maar op sy grond vir die nag kan kampeer – nooit met negatiewe gevolge nie.

Dit is hier in die stilte van die nag, langs die dam op die plaas met sterre wat in die water weerkaats, dat hy baie van sy inspirasie gekry het. Hierdie ligpuntjies aan die hemelruim, net soos die lig van vuurvliegies, het hy begin saamdra as die lig binne hom wat hom voortdryf.

Eens op ‘n tyd het ‘n droom gaan lê
In die hart van ‘n mens wat ‘n droom wou hê
Tyd het verloop en die droom gegroei
Soos hy droom het sy hart met homself bly stoei

Eens het ek lank op ‘n berg gaan staan
Om te sien hoe die dag in die nag vergaan
Alles in my het stil geraak
Ek’t gedroom ek wil als van my lewe maak