Sondagkommentaar: Kulturele verskille – Is dit die rede dat dorpsfeeste verdwyn?

Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël

Maroela media berig dat na agtien jaar van Die Noord-Kaapse enigste suksesvolle provinsiale fees, die Gariepfees, wat jaarliks in Kimberley aangebied is, nou ten einde gaan loop. Die rede is dat dit blykbaar te wit en te Afrikaans is.

Het ons nie maar ook dieselfde in Thabazimbi ondervind met die Wildsfees nie. Soos die betrokkenheid van die munisipaliteit toegeneem word, het die eise oor die kunstenaars ook toegeneem tot op die stadium dat die fees uitgekontrakteur is en totaal weg beweeg het van alles wat die Wildsfees suksesvol gemaak het.

Die rede was sekerlik die feit dat die destydse ANC-beheerde dorpsraad, soos dit seker die geval is by die Gariepfees, die fees as ’n politieke speelbal wou gebruik.

Die eerste wat gegaan het, was die feesterrein op Thaba Park, wat onder munisipale beheer staan en so deur die vorige munisipale bestuur verwaarloos is dat dit nie eens meer ten volle as sportterrein aangewend kan word nie, nog minder as feesterrein.

Die Wildsfees was die oudste dorpsfees, buiten die Standard Bank Kunstefees wat in Grahamstad, waar die eerste Britse setlaars hul gevestig het, aangebied word en wat nooit eintlik tot ’n dorpsfees ontwikkel het nie, maar eerder ’n voorloper was vir die KKNK, Aardklop en Innibos feeste, met ’n duidelike taal-inslag.

Dorpsfeeste is ’n kultuur wat vanaf Europa na Suid-Afrika en ander Europese nedersettings regoor die wêreld oorgedra is. ’n Kultuur wat destyds reeds daarop gemik was om deur middel van die dorpsfees plaaslike inwoners en mense van buite die gebied te betrek om kontantvloei te skep.

Die Kerk en Staat was voorstaanders van hierdie feeste aangesien dit belasbare inkomste geskep het. Ongelukkig het dit op die ou einde in ’n bakleiery ontaard oor wie die belasting mag invorder.

Die kerke wou hulle selfbeeld bevorder deur in beheer van die market en feeste te wees, terwyl die staat eerder die belasting van die arm mense wou invorder om inkomste te verseker vir hulle oorloë teen buurstate.
Engeland en Frankryk is goeie voorbeelde hiervan gedurende die tydperk sowat 300 jaar voor die wit volksplanting in die Kaap.

Hier kan ons teruggaan na die feodale stelsel in Europa waar feeste aangebied is om bietjie kontantvloei vir die plaaslike bestaansboere, entrepreneurs en besighede te skep.

Was die Wildsfees nie maar ook op dieselfde beginsel geskoei nie, naamlik om as klankbord te dien vir besoekers oor wat Thabazimbi kan bied kragtens toerisme, insluitende eko-, jag-, landbou- en wildlewe-toerisme asook nywerhede om juis entrepreneur na die dorp te lok om eerder hul besigheid hierheen te skuif met al die bestaande bedrywe soos mynbou en landbou ook ingesluit.

Buiten die reëndans van die Koi-stamme en die riete dans van die maagde, met ontblote borste, voor die Zulu koning, is daar min feeste wat enigsins kultuur aan Afrika kon verleen. Daarvoor was en is die Afrika se swart bewoners te stambewus om ’n kultuur te vorm uit ’n eenvoudige ding soos ’n dorpsfees te reël om inkomste vir die dorp en sy sakegemeenskap te skep.

Die geskiedenis van die Thabazimbi Wildsfees is ’n tipiese bewys van wat nou in Kimberley gebeur. Die munisipaliteit raak betrokke om ’n dorpsfees aan te bied inplaas daarvan dat hulle die fees ondersteun deur die skepping van infrastruktuur om die fees te aanbied.

Net soos die Biskoppe en Kardinale destyds in Engeland probeer het om die kontant na hulle voorstoepte vee, is dit ook al waaraan die stamgebonde heersers, wat die Suid-Afrikaanse ekonomie wil oorneem, ingestel is.

Dorpsfeeste ontstaan deur kulturele groei en hoef nie beperk te wees tot een kultuur nie, solank die ander kulture, wat ook deel van die fees wil uitmaak, bereid is om hieruit te leer en so hul eie kultuur te laat groei.

Die eerste waarna gekyk moet word, is wie betaal en wie betaal nie.

Reeds honderde jare gelede het besoeker betaal om deur die stadspoort te gaan om die fees by te woon. Uitstallers en entrepreneurs moes belasting op hulle verkope betaal. Hiervoor het die aanbieders gesorg deur behoorlike voorraadopnames te doen by al die verkopers voor en na die fees om te verseker dat hulle hul deel kry.

Dit is nie vandag meer eintlik moontlik nie, maar wat wel destyds geskep is, was ’n betaalkultuur, anders as in Suid-Afrika waar daar ’n “kultuur” van wanbetaling heers. Dit is geen kultuur nie, maar eerder ’n bewys van dooie kultuur.

Niemand leer iets hieruit nie. Niemand groei in kennis hierdeur nie en sal die gebakte hande nooit omgedraai word om die grond om te dolwe en iets te plant om vir hulleself te sorg nie.
Laasgenoemde is nie letterlik bedoel nie, alhoewel daar weereens ’n “kultuur” bestaan dat indien jy ’n stukkie grond het, jy vir jouself en jou gesin kan voed, aangevuur deur politieke populiste.

Wat van al die mense wat nie wil boer nie, maar eerder in die dorpe en stede wil werk en daar ’n bestaan maak om hulle kos te koop.

Nou dreig die burgemeester van Kimberley om finansiering van die fees te staak. Minder mense word na die stad gelok, wat beteken dat minder entrepreneurs hul daar sal vestig en die dorp nes sy kultuur begin stagneer en verarm.

In plaas daarvan om werksgeleenthede te skep om die kultuur van wanbetaling uit te wis, word dit eerder aangemoedig deur die bevolking uit die werk te hou.

Daar moet net besef word dat indien die dorpsfees in ’n dorp wat tradisioneel ’n oorwegende meerderheid van een taalgroep huisves, en uit wie die oorspronklike gedagte en die aanbieding van die fees berus het, dit steeds voorrang aan hierdie taalgroep sal bied.

So is al die bekende kunstefeeste vooraf genoem gebonde aan ’n spesifieke kultuur en taalgroep. Die Standard Bank Kunstefees in Grahamstad is byvoorbeeld oorwegend Engels terwyl die ander kunstefeeste Afrikaans geöriënteerd is. Indien die organiseerders nie meer ’n wins uit hul ondersteuners kan maak nie, moet hulle sterk na binne begin kyk en hulle teikengroep herdefinieer.

’n Vroeëre studie deur die Universiteit van Pretoria op die impak van die Wildsfees op die totale
Thabazimbi munisipale gemeenskap het getoon dat die sowat 20 000 besoekers oor die twee dae wat die fees aangebied is, sowat R81 miljoen vir die totale gemeenskap en sy besighede genereer.

Die toegangsgelde by die fees is maar ’n druppel in die emmer hierteenoor, maar dit is oor laasgenoemde dat feeste eerder beëindig, as aangemoedig word.
Thabazimbi kort ’n fees.

’n Daadwerklike poging is drie jaar gelede aangewend om ’n Bierfees in samewerking met ’n Wildveiling aan te bied, wat baie belowend vertoon het. Hoekom dit ’n Oktoberfees moes heet sou net die Kardinale en Priesters weet.

Dit is een keer daarna herhaal maar het toe doodgeloop. Bestaan daar nie ’n drinkkultuur nie of moet dit juis Klippies en Coke wees om te kwalifiseer?

Met die sterk opkoms van Boetiek oftewel Craft Bier, was dit juis die een sterk punt wat organiseerders kon aangryp, veral met die wild-kultuur, die grootste komponent vir die toekomstige ontwikkeling van toerisme in hierdie gebied daaraan gekoppel kan word.

Is dit miskien omdat die munisipaliteit nie destyds voordeel hieruit kon trek nie, of omdat die organiseerders nie sterk genoeg is om saam te staan en iets vir die gemeenskap te doen wat nie net op sy eie belange gevestig was nie.

Daar is meer waarde daarin as besoekers en inwoners jou as sakeman/vrou raaksien waar jy help organiseer of self by die hek staan om mense te verwelkom en toegangsgeld in te vorder.

Borg ’n stalletjie en laat die Gr 9 ouers voorbereide wildvleis onder jou slaghuis se banier daar verkoop vir ’n deel van die omset om die matriekafskeid te finansier.

Daar is baie maniere om jou doel te bereik en vir die dorp se inwoners asook besoekers te sê: “Ons kan julle meer as net goeie besigheid bied.” en sodoende beleggers hierheen te lok.

Die lot van die myn was nie verseël toe dit eienaarskap verwissel het nie – daar is steeds baie gemynde erts wat in hope rondlê en net verder verwerk moet word. Sien dit as Thabazimbi se pad vorentoe.