Die Kwêvoël

Colombia: Brug val – dood 9 konstruksiewerkers

Die een helfte van ‘n voertuigbrug wat onder konstruksie was oor ‘n vallei op die nuwe hoofweg wat die hoofstad van Colombia, Bogotá, met die stad Villavicencio sal verbind, het laas naweek ineengestort en die lewens van nege konstruksiewerkers geëis terwyl ‘n verdere vyf werkers beseer is.
Op die foto’s kan gesien word hoe ‘n groot gedeelte van die 450m-lange brug in die vallei daaronder lê.

Konstruksie beamptes sê dat daar min werkers op die seksie van die brug was aangesien ‘n veiligheidsvergadering aan die gang was toe die brug geval het en die meeste werkers die vergadering bygewoon het.

Die brug is deel van ‘n ambisieuse projek om die roete vanaf Bogotá na die oostelike gebiede te verbeter deur gedeeltes daarvan in ‘n dubbelbaan snelweg te omskep. Dit behels altesaam 18 nuwe tonnels, 42 brûe en kanale, waar paaie en strome kruis, sowel as beter beligting en CCTV kameras.

Die huidige roete is smal en met baie kronkels wat gereeld gesluit moet word aangesien vragmotors wat die hoofstad van voorrade voorsien gereeld verkeersopeenhopings veroorsaak as dit op die huidige roete meganiese probleme ontwikkel.

Coviandes, waarin die Colombiaanse Beleggings Korporasie ‘n meerderheidsaandeel besit, is verantwoordelik vir die konstruksie van hierdie nuwe hoofweg.