Die Kwêvoël

Nuus van elders – Toeristeboot ontplof

Reuters berig dat veertien toeriste en twee bemanningslede van ‘n boot wat gebruik word om toeriste tussen Phuket en die Phi Phi Le eiland in die suidelike provinsie van Thailand te vervoer, Sondag beseer is toe die boot se enjin aan die brand geslaan en ontplof het.

Die boot het 31 passasiers, hoofsaaklik Chinese toeriste, aan boord gehad toe die ongeluk naby die eiland plaasgevind het. Van die 16 beseerdes is ses in ‘n ernstige toestand.

Strandoorde en eilande in die suidelike deel van Thailand is besonder gewild, veral in die piekseisoen van November tot Maart.

Toerisme maak sowat 12% van Suidoos Asië se ekonomie uit en groei steeds.
Volgens die Thai minister van toerisme en sport word daar verwag dat tussen 37 en 38 miljoen toeriste in 2018 die gebied sal besoek. Hiervan kom sowat 10 miljoen van China af.