Die Kwêvoël

Nie-oordraagbare siektes – die produk van Armanskos*

Teen 2050 sal die uitdaging aan boere gestel word om ‘n addisionele 2,4 miljard honger monde te voer, waarvan die helfte hiervan in Afrika sal wees.

Meer kalorieë per hektaar en ‘n verlaagde bevolkingsaanwas om die gaping te vul, verskaf steeds nie die meer komplekse rede hoekom daar, nieteenstaande ons moderne voedsel stelsels, steeds honger, oorgewig en siek mense is nie.

Dit is juis dit wat afgevaardigdes na die onlangse Wêreld Voedsel-Sekerheids Konferensie wat onlangs in Kaapstad aangebied is, van die Suid-Afrikaanse Minister van Landbou moes hoor. Genoeg kalorieë word geproduseer in ‘n kontinent wat eintlik genoeg vir sy bevolking lewer, maar steeds is daar hongersnood en siektes.

Die vier-dag konferensie-program was gepak met wetenskaplike verslae oor hoe Afrika landbou uitsette kan verhoog in die hoop dat hierdie kontinent tot die toekomstige broodmandjie van die wêreld kan ontwikkel.

Huidig is die situasie dat elke bestaansboer op die kontinent, nie net vir hom en sy huisgesin genoeg moet produseer nie, maar ook vir twee families wat in stede bly en wat nie hul eie voedsel kan verbou nie. Die versnellende verstedeliking van Afrikane wat eerder gemaklike kantoorwerk wil doen, veroorsaak dan ook dat minder mense agterbly om die groente- en graanlande te bewerk.

Alhoewel die bevolkings-aanwassing twintig jaar gelede hoër was as nou, is daar minder kinders wat doodgaan en mense leef oor die algemeen langer. Dit laat meer mense in ‘n vrugbare posisie waardeur die aanwas verder kan verhoog.

Die uitdaging wat aan Afrika se inwoners gestel word is hoe om die jeug as ‘n dividend vir ekonomies groei aan te wend eerder as nog ‘n slaggat vir armoede.

Baie het sedert die sestiger jare verander toe daar gereken is dat indien daar genoeg voedsel produseer word, die honger-probleem self sal verdwyn.
Hierdie veranderings was in terme van hoe voedsel geprosesseer, bemark en versprei word. Daar moet nou eerder ondersoek ingestel word na die geweldige impak van die prosessering-proses op die voedingswaarde van kos.

Die kosindustrie sit gesonde voedsel deur ‘n proses waartydens dit in ‘n groot mate van hul voedingswaarde gestroop word. Die eindproduk is goedkoop, maklik verkrygbaar maar arm aan kalorieë. Dit is ‘n produk met ‘n lang raklewe, kan oor ver afstande vervoer word en rowwe hantering weerstaan om uiteindelik spaza winkels in afgeleë gemeenskappe te bereik.

Anders as bederfbare vrugte en groente, is geprosesseerde voedsel ‘n lae-risiko produk vir die kleinhandelaar. Alhoewel dit sorg vir baie energie, besit dit nie veel voedingswaarde nie.

Indien daar nie dringend aandag aan hierdie aspek in die voedsel waarde ketting verleen word nie, sal die beplanners in voedsel-sekuriteit en beleidmakers nie die probleem van hongersnood, mikro-voedings tekorte en toenemende vetsug op hierdie kontinent kan aanspreek nie.

Arm Suid-Afrikaners is reeds afhanklik van ‘n dieet van goedkoop, suiker- en styselryke kos, waar die meeste mense goeie toegang tot swak kos en swak toegang tot goeie kos het. Dit is ‘n driemalige lading op die stygende voorkoms van diabetes en vetsug, wat beide sedert 1994 ‘n toename van 69% getoon het terwyl die verbruik van groente met 8% gedaal het.

Dit beteken dat nie oordraagbare siektes vinnig besig is om oordraagbare siektes soos HIV en TB verby te steek as die grootste las op die gemeenskap.

Bron: Leonie Joubert; ‘n Vryskut wetenskaplike skrywer en outeur van onder andere “The Hungry Season: Feeding Southern African Cities”.

*Armanskos© – Bekostigbare kos vir die arm persoon – Oorsprong: Kwêvoël